
Die volstruisbedryf is nie in sak en as oor die terugslae wat voëlgriep hom toedien nie.
“Ons maak werk van alternatiewe strategieë, soos moontlike immunisering waaroor ’n taakspan nou navorsing doen en die verskerping van biosekuriteit deur registrasie van uitvoerplase om die virus hok te slaan. Uitslag is nie die oplossing nie. Ons kry nie die siekte daarmee gekeer nie,” sê mnr. Piet Kleyn, waarnemende uitvoerende hoof van die SA Volstruisbesigheidskamer (SAVBK).
Die bedryf het miljoene rande skade gely en meer as 50 000 volstruise is geslag sedert die uitbreking van voëlgriep meer as ’n jaar gelede. Die Regering het al meer as R60 miljoen aan die slag van diere en vergoeding aan boere bestee.
Uitkoms vir boere
Die uitvoer van vleis wat hittebehandel is, bied uitkoms vir boere. ’n Verwerker is reeds besig om sy hanteringsvermoë daarvoor te vergroot. Kleyn sê die bedryf sal hom in die toekoms al hoe meer op die bemarking van dié soort uitvoer moet toespits omdat die risiko’s vir vars vleis te groot is.
Daadwerklike bemarkingspogings gaan ook aangewend word om die binnelandse verbruik van volstruisvleis te verhoog en die uitvoer van leer en vere uit te brei, sê hy.
Die bedryf ondersoek saam met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye die moontlikheid van kompartementele uitvoer of die sonering van “skoon” gebiede waar die uitvoer vanaf geregistreerde plase toegelaat sal word.
Ander belanghebbendes in die bedryf meen dit is moontlik dat volstruisboerdery na die noorde kan skuif weens die “endemiese voorkoms van die siekte in die Wes-Kaap”.
’n Groot volstruisslagplaas word reeds by Kuruman beoog. Volgens voorspellings kan die bedryf in die Wes- en Oos-Kaap met tot 50% krimp.