
Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, sê die voorval het plaasgevind nadat vyf verdagtes ’n plaaswerker op die plaas Kuilsfontein in die distrik Lichtenburg beroof en van die toneel gevlug het.
Inligting oor die voorval is op ’n WhatsApp-groep gedeel en ’n patrollie is begin om die verdagtes op te spoor. ’n Groep boere wat aan die patrollie deelgeneem het, het die verdagtes se voertuig langs die pad opgemerk. Hulle het verdere ondersoek ingestel en vier verdagtes in die voertuig gevind. ’n Skietery het gevolg.
Een van die verdagtes is doodgeskiet en een van die boere, mnr. Pieter van der Westhuizen van die plaas Vaalkop in die distrik Zeerust, is raakgeskiet. Hy is in die hospitaal opgeneem, maar het aan sy wonde beswyk.
Funani sê twee moordsake word tans ondersoek. Die ondersoek en soektog na die ander verdagtes duur steeds voort.
Netwerk24 berig dat Van der Westhuizen ’n oudpolisieman was. Hy het vermoedelik ook een van die ander verdagtes gewond.