Brande saai groot verwoesting in Noordwes met meer as 20 000 ha wat reeds in die slag gebly het, aldus Agri Noordwes.
Mnr. Cor van Vuuren, die voorsitter van die organisasie, sê sowat 20 000 ha het sedert die naweek in die distrik Schweizer-Reneke in die slag gebly, terwyl brande in die distrik Vryburg tot 53 km ver gestrek het.
“Die brande in Vryburg is glo geblus, maar die totale skade is nog nie bepaal nie,” vertel Van Vuuren.
Intussen vertel mnr. Jaco Maré, ’n boer van Hartebeesfontein, brande woed tans (Dinsdag, 23 Augustus) in dié omgewing asook in die distrik Klerksdorp.
Brandstigting en aanranding
Die brande in die distrik Schweizer-Reneke kan vermoedelik aan brandstigting toegeskryf word.
Van Vuuren sê dit is hartseer dat twee boere na bewering die reg in eie hande geneem en glo vier mense aangerand het omdat hulle vermoed het dat hulle die brande begin het.
Die boere het glo terwyl hulle die brande probeer bestry het op ’n man en drie vroue afgekom. Die vier is glo aangerand en die twee boere is op aanklagte van aanranding in hegtenis geneem.
Brig. Thulani Ngubane sê die boere is Maandag (22 Augustus) op borgtog van R5 000 elk vrygelaat en moet weer op 5 September in die hof verskyn.
“Ons is gister (Maandag, 22 Augustus) in kennis gestel dat die boere op hul beurt ’n saak van brandstigting aanhangig gemaak het, ” aldus Ngubane. ’n Klag van brandstigting is volgens Beeld teen mnre. Mothibi Mosepele en mee. Mampiki Chakapedi, Mamaki Sirwe en Nunu Moopelwa ingedien.
Vervolging
Volgens Van Vuuren kan die skuld vir dié voorval deels voor die deur van die Polisie gelê word. Hy sê frustrasies ontstaan wanneer boere groot skade ly weens brandstigting, maar die sake word nie behoorlik ondersoek nie of die verdagtes word nie behoorlik vervolg nie.
“Dan kan ’n mens in ’n mate verstaan as iemand sake in sy eie hande wil neem as hy mense op sy grond betrap terwyl hy besig is om sy bestaan van uitwissing weens brandstigting te probeer red,” verduidelik Van Vuuren.
Van Vuuren sê sowat 90% van die brande in die provinsie word deur boere self bestry. Hy sê hulle pogings om Working on Fire in die provinsie betrokke te kry, vorder traag en tans kom die meeste ondersteuning aan boere van munisipaliteite.
23 Augustus 2011