
Terwyl vele lande risiko’s inhou vir die Noorweegse wynmonopolie Vinmonopolet, is dit die Suid-Afrikaanse wynbedryf wat die meeste aandag in die media kry.
Vinmonopolet het intussen aangekondig dat wyninvoere uit Suid-Afrika “in dié stadium” nie gestaak gaan word nie. Dit volg nadat ’n ouditeur en tolk van die maatskappy UL namens Vinmonopolet van 13 Maart tot 8 April altesame 22 plase in Stellenbosch, Paarl en Robertson besoek het met die doel om die aantygings te ondersoek wat in Bitter Grapes – slavery in the vineyards gemaak word.
Die Deense dokumentêr, deur die joernalis Tom Heinemann, het internasionaal opslae gemaak nadat dit werktoestande in die plaaslike bedryf belig het. Dis onder meer in Swede, Denemarke en Noorweë uitgesaai.
Bitter Grapes-dokumentêr
“Baie verbruikers het ons met groot besorgdheid gekontak ná die Bitter Grapes-dokumentêr op 1 November in Noorweë uitgesaai is. Sommige sou duidelik nie weer Suid-Afrikaanse wyn koop nie, maar hulle was ver in die minderheid. Die meeste Noorweërs reken steeds Suid-Afrikaanse wyne bied goeie gehalte,” het mnr. Kristian Hogstad, bestuurder van korporatiewe bestuur by Vinmonopolet aan Landbouweekblad gesê.
Vinmonopolet is ’n kleinhandelaar in alkoholiese drankies. Dit behoort aan die Noorweegse regering en is die enigste maatskappy wat drankies met ’n alkohol-inhoud van meer as 4,75% in Noorweë mag verkoop. Suid-Afrika is ’n klein mark vir dié maatskappy.
Volgens Hogstad het die ouditeur agt spesifieke onderwerpe tydens sy besoeke ondersoek. Produsente is daarna ingelig oor die bevindinge en op grond hiervan is hulle kans gegee om verbeteringe aan te bring.
“Ons sal net ophou om wyn (van Suid-Afrika) in te voer as die produsente of plase nie die korreksies aanbring nie. Ons verwag van hulle om in samewerking met Noorweegse invoerders, hierdie aanpassings te maak.”
Uitdagings
Hogstad sê hulle het probleme wat groot sowel as kleiner risiko’s inhou opgetel. “Ons span se grootste uitdagings was naspeurbaarheid en om inligting te kry oor die produsente se verskaffingsketting.”
Hogstad het erken Suid-Afrika is nie die enigste land wat hierdie tipe uitdagings in die gesig staar nie. Hulle is tans onder meer besig om soortgelyke probleme in Sentraal-Amerika se rumbedryf uit te stryk.
“Daar is talle lande wat hoog op verskyn in ons risiko-analises. Nie een van daardie lande kry egter dieselfde mediadekking as Suid-Afrika nie.”