
Gee die Wes-Kaap die geleentheid om die voorstelle rakende grondhervorming, soos vervat in die Nasionale Ontwikkelingssplan (NOP), toe te pas. Dié beroep is deur die Wes-Kaapse premier, me. Helen Zille, op die Regering gemaak.
Haar beroep kom ná volgehoue uitsprake deur mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, dat die Regering 50% van boere se plase wil neem vir ’n besitskema vir plaaswerkers.
Die Wes-Kaap se het reeds ‘n suksesvolle aandeleskema-model waarmee hy groot sukses behaal.
Zille sê egter dat die Wes-Kaap bereid is om die proefkonyn te wees vir die NOP-model wat reeds aanvaar is.
“Voordat die Regering met ‘n radikale en vernietigende koers kom, anders as wat die NOP voorstel, laat ons eers dié plan toepas waarop reeds wyd gekonsulteer en ooreengestem is en wat werklik die potensiaal het om suksesvol te wees.”
Die omstrede Nkwinti-voorstel wat in die dokument, “Finale beleidsvoorstelle oor die versterking van die relatiewe regte van mense wat die grond bewerk” is in teenstelling met die voorstelle in die NOP.
Zille sê dit verwyder die gewillige-koper/-verkoper beginsel, plaas ontwikkelingsgeld in die Regering se hande en dit maak die deur oop vir grootskaalse bedrog in tenderprosesse vir ontwikkelingsprojekte.
Volgens die NOP se voorgestelde herverdelingsmodel sal elke munisipaliteit met kommersiële boerderygrond binne sy grense, ’n komitee bestaande uit alle landbou-grondeienaars in die distrik, plaaslike landboubesighede en banke, staatsdepartemente en -instansies, byeenroep.
Dié komitee sal 20% van die kommersiële grond in die distrik identifiseer en kommersiële boere die opsie gee om te help om dit aan swart boere oor te dra. Grond wat vir oordrag oorweeg kan word, is grond wat reeds in die mark is, grond van boere wat onder finansiële druk verkeer, grond in besit van ’n afwesige boer wat gewillig is om daarvan afstand te doen en grond in bestorwe boedels.
Die plan voorsien dat die staat die grond teen 50% van die markwaarde verkry en die ander 50% opgemaak word deur bydraes deur kommersiële boere wat vrywillig deelneem. In ruil daarvoor sal hulle hul grond behou en swart ekonomiese bemagtigingstatus kry.
* Nkwinti se voorstel is op Dinsdag, 24 Junie, deur Agri Oos-Kaap verwerp. Agri SA het hom dieselfde dag ook daarteen uitgespreek.