
Die georganiseerde landbou “het die verrassing van hul lewe gekry” tydens ’n onlangse vergadering met die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, sê die resolusies oor die groenskrif vir grondhervorming het aansienlik verskil van dít waaroor ’n werkgroep oor grondhervorming die afgelope paar maande onderhandel het.
Hy sê mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het aangedui dat die resolusies wat ter tafel gelê is, saamgestel is tydens ’n dinkskrum waaraan akademici van elders in Afrika onder andere deelgeneem het.
De Jager was ’n spreker tydens ’n konferensie oor die land se beleidsrigting wat deur die FW de Klerk-stigting in Johannesburg aangebied is.
Reg van eerste weiering
Een van die voorstelle wat deelnemers onkant gevang het, was ’n voorstel van die reg van eerste weiering. Die voorstel is glo gemaak op grond van die skrapping van die beginsel van vrywillige koper en vrywillige verkoper.
Die kwessie is met Nkwinti opgeneem. Volgens hom is so ’n voorstel nie op die tafel nie, want “dink julle regtig die departement het die kapasiteit om ’n reg van eerste weiering te implementeer?”
De Jager sê volgens Nkwinti word daar wel gekyk na die strenger implementering van die bestaande onteieningsbepalings in die Grondwet.
“Soos ons dit nou sien, lyk dit asof dit enige plaas te eniger tyd teen enige prys kan wees. Maar ons weet ook dat niemand in die ANC meer detail hieroor het nie,” aldus De Jager. Hy meen dat onteiening van grond in dié stadium dalk beter kan wees vir die bedryf pleks van die voortslepende proses wat baie boere tans verlam.