Beskuldigings dat County Fair se hoender binne die pak minder weeg as wat buite-op staan, is verlede week gesluk.
Die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) het Astral Foods, houermaatskappy van County Fair, om verskoning gevra oor ’n openbare beskuldiging wat hy vroeër vandeesmaand teen dié genoteerde maatskappy gemaak het.
Die reguleerder het County Fair se perseel in Epping in Februarie vanjaar besoek en tydens dié besoek gevind dat die maatskappy se produkte wel aan die voorgeskrewe gewigspesifikasies voldoen.
Ten spyte daarvan het die NRVS op 4 April vanjaar ’n persverklaring uitgereik waarin hy aanvoer County Fair se 2 kg-pakke hoenderstukke is ondergewig en het sodoende die Wet op Handels-metrologie (Wet 77 van 1973) oortree.
Die NRVS het verbruikers ook in die verklaring ontmoedig om County Fair se produkte te koop.
Me. Mirriam Moswaane, woordvoerder van die NRVS, het bevestig dat ’n persverklaring van 4 April 2011, waarin dié valse beskuldiging gemaak word, verlede week in sy geheel teruggetrek is. Die NRVS het om verskoning gevra vir enige ongerief, verleentheid en skade wat dié persverklaring tot gevolg gehad het.
Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral Foods, het die verskoning aanvaar. “Daar is geen rede vir County Fair se verbruikers om bekommerd te wees nie, want ons is nie skuldig bevind aan enige klagte nie."
"Ons wil dit graag stel dat ons produkte van ’n hoogstaande gehalte is en dat ons die beste praktyk, soos neergelê deur Suid-Afrikaanse wetgewing, volg. Tog is dit jammer dat dié ongegronde stellings in die media gemaak is wat die reputasie van County Fair en Astral beskadig het.”
13 April 2011