
Bedrog met die nulkoers op BTW vir die landbou kan bona fide-boere duur te staan kom, hoewel dit nie sin maak dat hulle dié stelsel misbruik nie, sê dr. Philip Theunissen, ’n forensiese rekenmeester van Bethlehem.
Theunissen, ’n bekende landbou-ekonoom wat ’n forensiese rekenmeester-onderneming op Bethlehem bestuur, is om kommentaar gevra nadat die SA Inkomstediens laat blyk het dat hy die nulkoers op BTW vir die landbou wil skrap oor grootskaalse bedrog. Dié bedrog met BTW ontneem die land glo aan ’n belastinginkomste van sowat R2 miljard.
“Wat die nulkoers betref maak dit nie sin dat ’n bona fide-boer dit misbruik nie. Dit moet weer eens inkom by mense wat om een of ander rede goedere vir nie-boerdery-doeleindes aanskaf en dit dan teen die nulkoers wil koop. Eintlik maak dit nie sin nie. Ek vermoed dit kom dalk in by mense wat dit teen nulkoers verkoop aan nie-boere wat veronderstel is om BTW daarop te betaal. Die punt is dit sal nie bona fide-boere wees wat die stelsel misbruik nie, maar hulle moet nou die prys betaal vir dié klomp skelms,” sê Theunissen.
Indien die SAID die stelsel van die nulkoers vir produksiemiddele skrap, sal dit beteken dat boere ’n ekstra rentelas op hul skouers gaan hê omdat hulle die BTW op die aankope van saad, kunsmis en chemikalieë vir tot drie maande sal moet dra, na gelang van van hoe gou die SAID die BTW terugbetaal. Die BTW-vergunning is juis ingestel om boere tegemoet te kom met hul kontantvloei, omdat dit tyd neem voordat die SAID die BTW terugbetaal.
Volgens die SAID misbruik ’n “beduidende” aantal BTW-geregistreerde ondernemers in die landbou die stelsel. Hulle word glo reeds vervolg.
* Theunissen meen boonop dat bedrog met die dieselrabat (wat ook in die SAID se visier is) gepleeg word deur nie-boere. “Normaalweg is saad en kunsmis aan BTW onderhewig, mits jy ’n spesiale paragraaf op jou BTW-registrasievorm het wat aandui dat jy ’n boerdery is. Dit is dieselfde met die dieselrabat, naamlik dat nie-boerdery-ondernemings hulle “hoewes” van waar hulle transportwerk doen, as boerderye registreer om die dieselrabat te kan terugeis. Bona fide-boere self kan eintlik nie die stelsels misbruik nie.