Die land se landbougeledere is nie onaangeraak deur pres. Jacob Zuma se skuiwe in die Kabinet nie.
Dr. Joe Phaala, voormalig adjunk-minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sal voortaan die adjunk-minister van Kuns en Kultuur wees, terwyl mnr. Thembelani Nxesi die pos van adjunk-minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming sal volstaan.
Nxesi was die voorsitter van die portefeuljekomitee belas met Internasionale Verhoudinge en Samewerking, en het al gedien as voorsitter van Education International. Volgens inligting op Education International se webtuiste is Nxesi in 2004 as voorsitter aangestel. Hy was tydens dié aanstelling ook die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysunie (SADTU).
Nxesi is in die Oos-Kaap gebore. Hy het in 1987 ‘n graad in kuns aan die Universiteit van Suid-Afrika voltooi en ‘n graad in onderwys van die Universiteit van Witwatersrand ontvang. Hy het vanaf 1985 aardrykskunde by die Sekondêre Skool Ikusasa in Tembisa aangebied en is in 1988 as die hoof van die skool se sosiale ontwikkelingsdepartement aangewys.
Sien uit na sy bydrae
Intussen sê mnr. Mtobeli Mxotwa, woordvoerder vir mnr. Gugile Nkwinti, hy sien uit na die bydrae wat Nxesi binne die departement kan lewer. Daar word tans ‘n afdeling vir internasionale en rolspelerverhoudinge ontwikkelen glo Nxesi gaan baie waardevol wees op dié gebied.
“Ons is seker hy sal baie waardevol wees vir die departement. Hy gaan van groot hulp in die internasionale arena wees, want ons wil grondhervorming internasionaal neem, nie net plaaslik nie, sodat ons kan leer uit die ondervindings en foute van ander lande,” vertel Mxotwa.
Nxesi en die ander ministers en adjunk-ministers word vandag (1 November) om 14:00 ingesweer.
Lees ook:
Shabane nuwe DG vir Grondhervorming
1 November 2010