
'n Nuwe alliansie, wat hom sal toespits om die gesig te verander van die landbou in die Wes-Kaap, gaan die lig sien.
Dié organisasie, wat waarskynlik die Wes-Kaapse Progressiewe Alliansie sal heet, word gestig om ekonomiese transformasie in die landbou in die provinsie te bewerkstellig, sê mnr. Ismail Motala, voorsitter van die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) in die Wes-Kaap.
Motala verduidelik dat landbou-omstandighede in die Wes-Kaap anders as elders in die land is. “Die landbou-ekonomie is ná 20 jaar van demokrasie nog nie getransformeer nie.
“Hier (die Wes-Kaap) word aangeneem dat alles net oor grondhervorming van die landelike omgewing en die voorstelle van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) gaan. Dit gaan egter verder as dit. Die NOP kyk nie na die algehele transformasie van die landbou-ekonomie nie.”
Om hierdie rede sal die alliansie toesien en verseker dat nie net grond herverdeel word nie, maar dat die hele waardeketting van die landbou-ekonomie getransformeer word.
Die alliansie bied ook die geleentheid vir verskeie organisasies wat ‘n belang in die sektor het om uit een mond te praat.
Dit sal bestaan uit organisasies, soos Afasa, National African Farmers’ Union (Nafu), Woman on Farms, Bawsi Agricultural Workers’ Union of South Africa (Bawusa), die vakverbond Cosatu en ander kleiner organisasies, sê Motala. Die progressiewe alliansie wil ook die skakel word tussen die boer en plaaswerker, om beter werks- en lewensomstandighede vir dié werkers te beding