
Mnr. Japie Grobler, wat tot voorsitter van die eenheidsforum vir die landbousektor (Asuf) verkies is, het as voorsitter waargeneem ná die dood van me. Ntombi Msimang, vorige voorsitter.
Hy is op 'n buitengewone vergadering van Asuf tot voorsitter verkies en mnr. Pitso Sekhoto, Vrystaatse leier van die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa), is tot ondervoorsitter verkies.
Grobler het in 'n verklaring gesê die vergadering was belangrik omdat die forum nou sy eerste stadium van ontwikkeling afgehandel het en dit nodig was om belangrike kwessies openhartig te debatteer om te vorder funksionele eenheid tot groter strukturele eenheid.
“Die kritiekste kwessie vir die landbou, wat ook groter eenheid binne die sektor beperk, is die vraag rondom grondhervorming. Asuf het 'n toegewyde komitee oor grondhervorming gevestig wat 'n omvattende, samehangende grondhervormingsplan sal ontwikkel om voor einde vanjaar aan die Regering voor te lê.”
Hierdie plan sal 'n pro-aktiewe stap wees om aandag te gee aan die beleids- en politieke onsekerheid oor die kwessie.
Die onsekerheid het volgens hom 'n negatiewe invloed op beleggersvertroue en groei in die sektor, wat op sy beurt weer 'n negatiewe invloed het op voedselsekerheid en werkskepping.