
Die feit dat die nuwe polisiekommissaris die polisiemag moet skoonmaak, is ononderhandelbaar, sê mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder by TLU SA. Daar is volgends hom te veel misdaad en korrupsie wat binne die polisiemag plaasvind. As die polisiemag nie gesuiwer word nie, verloor alle Suid-Afrikaners.
Lt.genl. Sehlale Fannie Masimola is gister deur pres Cyril Ramaphosa as die nuwe nasionale polisiekommissaris aangestel. Hy vervang genl. Khehla Sitole.
Van Zyl sê Suid-Afrika moet ’n skoon polisiemag hê as hy sy huis in orde wil kry wat misdaad betref. “TLU SA meen dit is sy vernaamste taak. As hy dit nie gaan regkry nie, dan mors hy sy tyd en Suid-Afrika se tyd. ’n Gesuiwerde polisiemag is nodig om die vertrouensverhouding tussen die publiek en polisiemag te herstel. Suid-Afrika gaan nie die stryd teen misdaad wen as misdaad hoogty vier in die polisiemag nie.”
Van Zyl sê TLU SA hoop dat veiligheid vir die nuwe polisiekommissaris die belangrikste is, nie politiek nie. “TLU SA besef egter dit is baie gevra in die era van kaderontplooiing.”
Mnr. Henk van de Graaf, streeksvoorsitter van TLU SA Noord, sê die organisasie het dit nog altyd duidelik gemaak dat hy deel van die oplossing wil wees wat landelike veiligheid betref. “Ons sal enige tyd met hom wil saamwerk as dit vir hom ook belangrik is.”