
Janse van Rensburg tree op 30 September 2022 af nadat hy hom op 1 Februarie 2007 by die groep aangesluit het. Luidens ’n verklaring deur VKB het hy in die daaropvolgende 15 jaar ’n merkwaardige bydrae gelewer tot VKB se groei en vooruitgang.
“Die VKB-groep het gedurende hierdie tydperk gegroei van ’n koöperasie tot ’n suksesvolle, uitgebreide groep van 33 entiteite met gediversifiseerde belange in die landbouwaardeketting. Van Rensburg is welbekend in veral die landboubedryf, en ’n geliefde en dinamiese leier wat sy mense saamsnoer en ’n kultuur van uitnemendheid skep.”
Die direksie van VKB Beleggings (Edms.) Bpk. het Strauss se aanstelling op 21 Junie bekend gemaak. Strauss is tans die besturende direkteur van VKB Landbou (Edms.) Bpk. Volgens VKB het hy ’n roemryke loopbaan in die landbou en internasionale handel.
“Benewens uitsonderlike kennis en ervaring, bring hy dinamiese en innoverende besigheidsvisie en ’n passie vir kliëntediens na die VKB Groep. Die direksie sien met verwagting uit na sy bydrae om die VKB-groep na nog hoër hoogtes te lei.”