’n Oud-Vrystaatse LUR van plaaslike regering en behuising, mnr. Lechesa Tsenoli, is die nuwe Adjunkminister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Pres. Jacob Zuma het hierdie aankondiging gedoen toe hy sy Kabinet geskommel het. Tsenoli neem hierdie pos oor by mnr. Thulas Nxesi, wat nou die nuwe Minister van Openbare Werke is.
Zuma het ook aangekondig dat Openbare Werke nie meer ’n adjunkminister sal hê nie. Tsenoli was voor sy aanstelling as adjunkminister die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee van samewerkende regering en tradisionele sake.
Hy is die derde adjunkminister van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming sedert Grondsake van Landbou geskei is. Die ander voormalige adjunkminister was dr. Joe Phaahla.
Pres. Zuma het ook aangekondig dat genl. Bheki Cele, die nasionale polisiehoof, met volle salaris en voordele geskors is hangende die uitslag van ’n ondersoek teen hom.
Adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer, het onder meer bevind dat Cele onregmatig en onwettig opgetree het ten opsigte van twee huurooreenkomste vir polisiekantore in Pretoria en Durban.
Ander skuiwe wat Zuma gemaak het, is: me. Dina Pule, Adjunkminister in die Presidensie, is nou die nuwe Minister van Kommunikasie; mnr. Richard Baloyi, Minister van Openbare Diens en Administrasie is nou die nuwe Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake.
Mnr. Roy Padayachie, die Minister van Kommunikasie is nou die nuwe Minister van Openbare Diens en Administrasie; mnr. Obed Bapela, die Adjunkminister van Kommunikasie is nou die nuwe Adjunkminister in die Presidensie; me. Hendrietta Bogopane-Zulu, die Adjunkminister van Openbare Werke is nou die nuwe Adjunkminister van Vroue, Kinders en Mense met Gestremdhede; en die ANC-parlementslid, me. Thembisa Stella Ndabeni, is nou die nuwe adjunkminister van Kommunikasie.
24 Oktober 2011