’n Nuwe boeremark is met behulp van finansiering van R3,5 miljoen in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal (KZN) geopen. Me. Vuyelwa Nhlapo, hoofbestuurder van die Nasionale Ontwikkelingsagentskap (NOA), het die Newport-varsproduktemark vir vars vrugte en groente - wat hulle gefinansier het - Donderdag (10 Maart), amptelik geopen.
Dié mark sal fokus op die opkomende boere van die KwaZulu-Natalse Middellande, en volgens Nhlapo is 40 boere reeds gereed om daagliks produkte aan die mark te lewer. Boere van ander streke word wel ook betrek. Dit bied ook 25 heeltydse werksgeleenthede aan die plaaslike gemeenskap.
Toegang tot markte
“Die Newport-mark is ’n oplossing vir opkomende boere se probleme rondom marktoegang. Ons het ál meer NOA-gefinansierde inisiatiewe wat nie in staat was om te groei en hulleself te onderhou nadat die NOA se geld op was nie. Ons het besef dat dieselfde probleme ander klein- en opkomende boere beïnvloed,” aldus Nhlapo.
Die boere sal deur Newport se personeel ingelig word oor wat om wanneer te plant sodat hulle dit aan die mark kan lewer. Dié benadering sal hopelik ’n rol in armoedeverligting en die skep van werksgeleenthede kan speel.
By die amptelike bekendstelling het die NOA ’n beroep op die sakegemeenskap van die Middellande en die provinsie gedoen om dié mark en die opkomende boere te ondersteun. Die mark is in Langalibalele-straat in die stad geleë.
11 Maart 2011