Die nuwe entstof teen Slenkdalkoors met die naam Kloon 13, is nou in Namibië geregistreer.
Goeie nuus is dat die nuwe entstof teen Slenkdalkoors met die naam Kloon 13, nou in Namibië geregistreer is, luidens die jongste nuusbrief van die Namibiese Landbou-unie.
Handelaars het bevestig dat dié entstof binne ‘n week beskikbaar sal wees nadat ‘n bestelling geplaas is. Boere word aangeraai om dit betyds by die handelaars te bestel indien hulle beplan om te ent.
Kloon 13, anders as ander beskikbare entstowwe teen Slenkdalkoors, het geen temperatuurreaksies tot gevolg ná enting nie. Geënte diere toon ook geen reaksie op die virus en die entstof het ook geen aborsies tot gevolg nie. Dit is dus veilig om te gebruik tydens enige stadium van dragtigheid. Die nagslag van die geënte moeder is ook gesond. Die entstof beskerm die dier vanaf dag sewe na enting en word een keer per jaar toegedien.
Die Slenkdalkoorsvirus word veral deur muskiete oorgedra. Met die vooruitsigte van goeie reën vir hierdie jaar word dit aanbeveel om diere teen Slenkdalkoors te ent. Let wel dat die reëlings steeds van toepassing is om die staatsveearts in die streek drie dae voor beplande enting in kennis te stel, sodat indien die veearts dit wil kontroleer, dit wel kan doen. Hou die koopbewys en leë bottels as bewys van enting.
22 November 2010