
Vyf nuwelinge het vanjaar hul buiging in Standard Bank se Chenin blanc Top 10-uitdaging gemaak.
“Dis ongewoon en baie opwindend, maar dis net so goed om te sien dat kelders soos Perdeberg-wynmakery al vir die vierde keer vir agtereenvolgende oesjare van dieselfde wyn (The Dry Land Collection Courageous Barrel Fermented Chenin blanc) ’n plek op die lys beklee,” het me. Cathy van Zyl, wat vanjaar se proepaneel gelei het, gesê.
Spier draai ook vir die vierde keer op die gesogte lys, en het reeds drie keer die toekenning vir verskillende weergawes van sy 21 Gables Chenin blanc huis toe geneem. Nog ’n ou bekende is Stellenrust, wat ook vir die derde keer die toekenning verwerf het by die toekenningseremonie op Stellenbosch.
Stellenrust spog met twee wyne op vanjaar se Top 10-lys, naamlik die 52 Barrel Fermented Chenin blanc 2016 en 51 Barrel Fermented Chenin blanc, gemaak uit wingerde van onderskeidelik 52 en 51 jaar oud.
Hoë standaarde
“Die standaard van die 136 inskrywings was vanjaar van so ’n aard dat ons meer tyd daaraan bestee het om te besluit watter wyne nie in in die top tien hoort nie, as watter ingelaat moet word. Die meerderheid van die wyn, ongeag die styl, is met ’n empatiese hand gemaak. Hout is oordeelkundig aangewend en vars, vrugtige wyne het aan alle verwagtinge voldoen sonder om dun of té suur te wees.”
Al die wenners ontvang R25 000 prysgeld wat die kelder moet aanwend om ekonomiese en sosiale voordele in die werkplek te verbeter.
Mnr. Willie du Plessis, Standard Bank se uitvoerende hoof van besigheidsbankdienste in die Wes-Kaap, sê hulle wil met dié reëling verseker dat beide die handelsmerk-eienaars én die werkers voordeel trek uit die toekenning. Dit gee ook erkenning aan beide se bydraes tot die wynbedryf.
Altesaam sewe van die wenwyne kos R200 of minder. Mnr. Ken Forrester, voorsitter van die Chenin blanc-vereniging, het dit as van die beste waarde in die bedryf beskryf.
Die res van die wenners is Cederberg Private Cellar Five Generations Chenin blanc 2015 (debuut), DeMorgenzon Reserve Chenin blanc, Fleur du Cap Unfiltered Chenin blanc 2016 (debuut), Nederburg Heritage Heroes The Anchorman Chenin blanc 2016 (debuut), Spice Route Chenin blanc 2016 (debuut) en Windmeul Kelder Chenin blanc Reserve 2016 (debuut).