'n Geraamde 10,1 miljoen hektaar grond in Suid-Afrika en Lesotho is ingeneem deur indringerplante waarvan sommige 'n bedreiging vir vee inhou.
'n Belangrike gids met noodsaaklike inligting oor 'n groep indringerplante wat 'n groot omgewingsbedreiging inhou,van die identifikasie, verspreiding en impak van indringer-vetplante is deur die SA Nasionale Biodiversiteit Instituut (SANBI) bekend gestel.
Naturalised and Invasive Succulents of Southern Africa, bevat volledige inligting oor die identifikasie en impak van indringer vetplante wat daarop gemik is om boere en die algemene publiek in staat te stel om dié indringers uit te ken en daarvan ontslae te raak.
Volgens die boek word sowat 2 577 van Suid-Afrika se ryke verskeidenheid plantspesies bedreig deur die landbou, verstedeliking en die verspreiding van vreemde indringerplante, waarvan meer as 550 spesies bydra tot die transformasie van eens ongerepte habitatte.
Sowat 70 daarvan is vetplantspesies waarvan meer as die helfte lid is van die kaktusfamilie.
Omdat die meeste van dié plante doringrig en droogtebestand is, raak dit maklik gevestig wanneer stukkies afbreek en aan diere vasklou of die sade deur voëls versprei word.
Die boek is ondersteun deur die Belgies Ontwikkelingskorporasie en verskeie wetenskaplikes het meegewerk daaraan. Navrae kan gerig word aan Sanbi by p.gozo@sanbi.org.za of tel. 012 843 5200.
28 Mei 2012