
Mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusentevereniging (RPO), het tydens die organisasie se konferensie in Pretoria gesê die bedryf het ’n nuwe visie vir 2030 waaroor hulle baie opgewonde is. Dit sluit onder meer die doelwit in om uitvoer met 16% te verhoog tot 20%, deur veral markte in Saoedi-Arabië en Maleisië te ontsluit.
“Ons het groot drome vir die bedryf, maar daar is sekere probleme wat voorlê. Ons het ’n nuwe statutêre heffing ingestel om die droom te verwesenlik,” het Schutte gesê.
Mnr. Gerhard van den Burgh van die buro vir landbou- en voedselbeleid (BFAP) het gesê daar is “baie krissise” in die rooivleisbedryf, waarvan bek-en-klouseer en die droogte die vernaamstes is. Verbruikers se plat beursies wat hulle verhinder om duur vleissnitte te kan bekostig, is ’n verdere probleem.
Van den Burgh het gesê die bedryf het nou ’n duidelike padkaart om die probleme te oorkom.
“Ons het ’n gemeenskaplike doel vir die bedryf gestel met vier fokusareas. Dit is diere- en openbare gesondheid, inklusiewe groei, marktoegang en die mededingendheid en volhoubaarheid van die waardeketting. Daarsonder is dit onmoontlik vir die bedryf om te groei.”
’n Nuwe groepering in die rooivleisbedryf, rooivleisbedryfsdienste (RMIS), is ook op die been gebring met mnr. Dewald Olivier van die Suid-Afrikaanse voerkraalvereniging (Safa) aan stuur van sake. ’n Direkteur van elke bedryfsorganisasie (RPO, Safa, Nerpo en RMAA), asook ’n onafhanklike voorsitter en kundiges sal in die raad dien. Die RMIS sal vanaf 5 November as die rooivleisbedryf se administratiewe liggaam dien en onder meer uitvoering gee aan besluite hoe heffings aangewend moet word.
“Die feit dat ons groep nou kleiner is, met net vier belanghebbendes pleks van dertien, beteken ons kan vinniger en meer belynde besluite neem,” sê Olivier.
Nuwe heffing
Die bedryf se statutêre heffing is tans R12,38 per grootvee-eenheid (GVE) en sal op 5 November styg tot R13 per GVE. Volgens Van den Burgh sal dié bedrag “met 1 000% moet groei om ’n werklike impak te maak”.
“Binne die huidige begroting is daar net sekere dinge wat ons kan doen om ’n betekenisvolle verskil te maak, maar ek glo as die struktuur reg is, sal die groei kom.”
Volgens Olivier het hulle hoër heffings ondersoek, maar besef dis belangriker om weer vertroue te skep tussen die produsente, belanghebbendes in die waardeketting en die regering.
“Hulle moet besef daar is dienslewering binne ons bedryf en dat wat ons sê, werklik gedoen word tot voordeel van alle belanghebbendes. As ons nie bybly met die tye en saam groei nie, gaan ons die swartskaap van die landbou wees.”
Volgens die huidige struktuur word die heffing by veilingskrale, voerkrale en abattoirs gehef. Dit sal voortaan slegs by abattoirs gehef word.
“Die heffing is vervat in die waarde van die karkas, dus is dit hele waardeketting wat hiervoor betaal; niemand betaal minder of meer nie. Almal is gelyke vennote in Suid-Afrika se rooivleisbedryf.”
Dit sal steeds deur die RMAA (rooivleisabattoirvereniging) ingesamel word, maar die geld sal na die RMIS toe vloei.
Hoewel die begroting skraps is, glo Olivier hulle sal bestaande geld beter kan aanwend. Onder hul eerste planne is om Lits SA toe te pas, dieregesondheid en veeartsenydienste te takel en ’n prioriteitplan vir hoërisiko-areas vir bek-en-klouseer op te stel.
Hy meen naspeurbaarheid is ’n voorbeeld van iets wat die bedryf binnekort kan oplos.
“Ons sien oorplaatjies as ’n struikelblok, maar naspeurbaarheid gaan oor meer as ’n oorplaatjie, hoewel dit ook eenvoudiger as ’n oorplaatjie is. Dis die uitsondering dat boere se naspeurbaarheid nie gereed is nie, ons moet net die proses formaliseer.”
Vier areas van fokus
Oor die vier fokusareas wat deel uit maak van die 2030-visie, het Olivier gesê: “Marktoegang gaan nie net oor internasionale markte nie, maar ook oor die plaaslike bedryf, waar ons byvoorbeeld ’n rooilyngebied het en moet bepaal hoe ons diere daar uit kry.
“Wat diere- en openbare gesondheid betref, moet ons tegnologie beter benut.
“Inklusiewe groei gaan daaroor om die koek te vergroot. Suid-Afrikaners gaan vir ’n ruk lank nie geld hê om duur vleis te koop nie en daarom moet ons uitvoer, maar dit moet verantwoordelik gedoen word sonder om plaaslike verbruikers af te skeep.
“Mededingendheid is nie net onder mekaar of internasionaal nie, maar ook wat ander produkte betref, soos vleis-analoë (vegetariese of veganistiese produkte wat vleis vervang).”
Olivier het gesê die feit dat die bedryf nou minder gefragmenteerd is nie, maak deure oop.
“Ons kan nou internasionale finansiering ontsluit. In die verlede het ons geleenthede by die Wêreldbank verspeel omdat ons te gefragmenteer was en nie oor eenvoudige dinge saamgestem het nie.”