Die Suidwes Groep het nr. Louis Smit as nuwe besturende direkteur van die Suidwes Groep aangestel. Hy begin op 1 Februarie 2012 in die pos.
Smit volg mnr. Schalk Pienaar, wat die vir 13 jaar in dié posisie gestaan het, op.
Mnr. Pierre Vercueil, voorsitter van Suidwes se direksie, sê hoewel Pienaar aftree, is hy voorsitter van die Landboubesigheidskamer, dien hy in die direksie van AfgriNet en besit hy ook ‘n plaas. Hy sal dus sy werksaamhede in die landbou voortsit.
Werk in die landbou
Smit werk die afgelope 29 jaar in die landbousektor, en gedurende dié tyd het hy verskeie posisies, waaronder dié van landbou-ekonoom, beklee. Sy mees onlangse pos was dié van besturende direkteur van handel en meganisasie by Afgri.
Hy het ook betrekkings in die kommersiële- en bemarkingsafdelings van verskillende organisasies beklee en het al in verskeie direksies van landbouverwante organisasies gedien.
Buiten ‘n B.Sc.-Honneursgraad in landbou-ekonomie, wat Smit in 1982 aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het, het hy ook ‘n MBA-graad aan die Noordwes Universiteit voltooi.
9 November 2011