
Dié bekendstelling het gelyktydig in Johannesburg (Suid-Afrika), Brussels (België), Washington DC (Amerika) en São Paulo (Brasilië) plaasgevind.
Die indeks word deur die multinasionale tegnologiese reus, Du Pont, gefinansier en verskaf inligting oor 105 lande se voedselsekerheid.
Drie sleutelkategorieë – die bekostigbaarheid; beskikbaarheid en toegang; en die gehalte van voedsel – word deur die indeks gemeet.
Suider-Afrika is volgens die indeks die streek met die grootste voedselonsekerheid ter wêreld. Suid-Afrika en Botswana is die lande met die grootste voedselsekerheid binne dié streek.
Me. Pratibha Thaker, streekdirekteur vir die EIU in die Midde-Ooste en Afrika, sê as die streek net één ding in die komende jaar beter kan doen om voedselsekerheid te verbeter, moet dit beter samewerking wees. “Elke land het natuurlik sy eie probleme, maar samewerking is die een manier hoe ons dié kwessie die beste die hoof kan bied.”
Me. Pamela Chitende, direkteur vir DuPont Pioneer in Afrika, sê Afrika is tans die tuiste van ’n miljard mense. Teen 2050 sal dié getal verdubbel.
“Ons sal 20% van die wêreldbevolking uitmaak en ons uitdaging is om die bevolking te voed. Dié indeks kan landbouers help om ’n beter dialoog met regerings en ander rolspelers te bewerkstellig. Dit kan dus ’n platform vir verandering wees."
Meer besonderhede oor die voedselindeks sal eersdaags in Landbouweekblad verskyn.