
Onbevestigde berigte is uit Suid-Afrika ontvang van wat moontlik die indringer herfs-kommandowurm kan wees.
Dié plaag, wat sedert Desember groot skade aan oeste in Zambië, Zimbabwe en onlangs ook Malawi aanrig, is verwant aan ons gebruiklike Afrika-kommandowurm. Dit is oorspronklik vir groot verliese in Suid-Amerika verantwoordelik, maar is in 2016 die eerste keer in Wes- en Sentraal-Afrika opgemerk.
Mnr. Jan Hendrik Venter van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, sê hulle het nog net foto’s gesien van wat vermoedelik herfs-kommandowurms by onder meer Mokopane kan wees, en wag nou vir wetenskaplike bevestiging.
Hy doen ’n beroep op boere om hom dadelik by 072 348 8431 of 012 319 6384 te skakel indien enige verdagte wurms op hul plase of in hul lande opgemerk word. Die Landbounavorsingsraad se biosistematiek-afdeling by die Instituut vir Plantbeskerming op Roodeplaat sal amptelik bevestig of die wurm wel die herfs-kommandowurm is.
Die departement staan ook reg om boere te help om die mees doeltreffende en omgewingvriendelike beheerplan uit te werk, sê Venter. Hy voeg by dat dit reeds lyk asof die herfs-kommandowurm teen piretroïed-beheermiddels weerstandig mag wees.
Dr. Gerhard Verdoorn, plaagbestrydingspesialis en direkteur van die Griffon-gifinligtingsentrum, sê hy het oor die naweek ook berigte van wat moontlik herfs-kommandowurms kan wees, uit die Vrystaat ontvang.
Hy kan by 082 446 8946 of nesher@tiscali.co.za bereik word.
Só lyk die wurms wat pas by Mokopane in Limpopo opgemerk is, en dalk die indringer herfs-kommandowurm kan wees. Die owerhede wag vir amptelike bevestiging. Foto: Verskaf