
Hoe sal jy te werk gaan om die hoogste moontlike inkomste op ’n mielie-oes te behaal? Jy kan jou strategie nou ten volle, hoewel speel-speel, beproef in ons unieke kompetisie waarin jy met ’n fiktiewe mielie-oes werk. Jy kan weliswaar geen werklike oesverlies ly of wins maak nie, maar vet pryse is op die spel vir die deelnemers wat die beste presteer. Enigiemand kan deelneem.
Landbou.com, BVG Commodities en GrainCo, ’n filiaal van BKB, gee jou 6 000 ton mielies – bloot op papier, nie werklik nie – en jy maak asof jy dit op jou eie plaas geproduseer het. Al versoek is dat jy dié kamma-mielies oor die volgende drie maande sorgsaam op die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE) “verhandel” om die beste rendement daarop te kan kry.
Die doel van kompetisie is om belangstellendes gemaklik te maak met die gebruik van JSE-afgeleide produkte – in hierdie geval mielies. Elke deelnemer moet 6 000 ton wit mielies (WMAZ) op die kompetisie-platform verhandel. Dié mielies is in die omgewing van Bothaville geproduseer, vir lewering in Julie 2015. Deelnemers se vaste koste op die produksie van die oes is dieselfde, en dieselfde liggingsdifferensiaal geld. Dit plaas alle deelnemers dus op gelyke voet.
'n Deelnemer kan met die hulp van die nuttige graanbemarkingsrekenaar, wat deur BVG ontwikkel is, al jou strategieë na hartelus ondersoek om te kyk wat die effek van jou besluite gaan wees. Wanneer die deelnemer tevrede is dat hy/sy die beste moontlike strategie uitgewerk het, kan hulle die posisies gaan inneem op die JSE.
Deur aan die kompetisie deel te neem kan 'n mens vertroud raak met die werking van die JSE-graanmark, sonder om jou vingers te verbrand.
Die platform vir dié unieke kompetisie is deur BVG gebou, en is geskoei op dié graanhandelaar se werklike verhandelingsplatform. Dit loop dus parallel met BVG se werklike platform, en transaksies kan net weeksdae van 09:00 tot 12:00 gedoen word, soos op die JSE. Deelnemers aan die kompetisie kan egter enige ander tyd op die platform rondspeel om meer vertroud daarmee te raak.
Geregistreerde handelaars kan ook aan dié kompetisie deelneem, maar hulle sal net nie van die kontantpryse van altesaam R18 000 kan wen nie.
Dié drie deelnemers wat hul graan teen die meeste wins oor die kompetisie-tydperk verhandel, wen die pryse. Die kompetisie sluit op 30 April 2015 en die wenners word op die Nampo-Oesdag in Mei aangekondig.
Die organiseerders nooi jou uit om deel te neem. Vir diegene wat die graanmark nie ken nie, is 'n handleiding opgestel wat stap vir stap verduidelik hoe om te werk te gaan. Van BVG en GrainCo se graanhandelaars sal ook beskikbaar wees om hulp aan te bied.
Lees meer artikels oor die BVG-kompetisie op http://www.landbou.com/bvg-kompetisie/
Klik hier om 'n handleiding oor die kompetisie te lees.
* Klik op www.bvgcompetition.net om aan die kompetisie deel te neem.