
Land Rover het die Internasionale Motorskou in Parys (Frankryk) gekies om die sluier oor sy splinternuwe Discovery te lig.
Hierdie vyfde geslag Discovery het van sy meer hoekige Land Rover-ontwerp ontslae geraak en kry sy meer geronde vorm heel moontlik van die kleiner Discovery Sport, wat die Freelander vervang het. (Foto hieronder.)
Die nuweling vertoon kleiner as sy voorganger en dit is suiwer ‘n optiese illusie . . .waarskynlik omdat dit 3 cm laer is. Inderwaarheid is die nuwe model 14 cm langer en die asafstand is met 4 cm gerek terwyl die breedte omtrent dieselfde gebly het. In die praktyk beteken dit dat volwassenes nou in daardie derde ry sitplekke pas!
In die weldeurdagte en luukse binneruim, vol gesofistikeerde toerusting, ontbreek daar weinig en die nuweling kan met groot selfvertroue met die Audi Q7 en Volvo se CX90 skouers skuur.
Help bestuurder kykDie All Terrain Response-selsel is verfyn en etlike kameras help die bestuurder om te “kyk” waar sy eie oë nie van agter die stuurwiel kan “sien” nie!
Hoewel die nuwe Disco laer as sy voorganger is, kan hy tot 2 cm hoër klim. Daarby spog hy met ‘n waterryvermoë van 900 mm teenoor die 700 mm van die vorige model. Die lugvering, ‘n laestrekratkas en die Terrain Response-stelsel (met geprogrammeerde ryoppervlakte-keuses) maak van die nuweling ‘n gedugte veldvoertuig.
Die nuwe viersilinder turbodiesel-enjin van twee liter lewer drywing van 177 kW en 500 Nm se wringkrag. Dit is deel van Jaguar/Land Rover se Ingenium-enjins waaroor die groep baie opgewonde is. Dan is daar ook die bewese Td6-dieselenjin (191 kW/600 Nm) en die drieliter drukaangejaagde V6 (250 kW/45 Nm) beskikbaar.
Die nuwe Discovery sal glo teen die middel van 2017 in Suid-Afrika beskikbaar wees.