
Die Zimbabiese kommmersiële landbou-unie se benoeming van dr. Theo de Jager vir die Wêreld Landbou-organisasie se voorsitterskap was ’n verrassing vir plaaslike organisasies.
“Ons het nie geweet Theo wil vir die voorsitterskap van die Wêreld Landbou-organisasie staan nie,” sê Agri SA se voorsitter, mnr. Johannes Möller. Agri SA het die waarnemende voorsitter, mnr. William Rolleston van Nieu-Seeland vir die voorsitterskap benoem. “Theo het ons nooit vir ’n benoeming gevra nie,” sê Möller.
In ’n persverklaring van Agri Limpopo sê die organisasie De Jager is deur die Zimbabwiese kommersiële landbou-unie (ZCFU) waarvan hy ’n erelid is, vir die voorsitterskap benoem. De Jager dien op die transformasiekomitee van Agri Limpopo en dien tans as voorsitter van die Konfederasie van Suider-Afrikaanse Landbou-unies (Sacau) en hy is ook die voorsitter van die Agri All Africa-raad. Hy is egter nie meer direk by Agri SA se bestuur betrokke nie.
Onkant gevang
“Ek en Theo praat so nou en dan in die verbygaan met mekaar, maar ons het lanklaas gesit en behoorlik gesels. Ek was heel uit die veld geslaan toe ek die persverklaring oor sy nominasie sien,” sê Möller. De Jager sê hy is self onkant gevang deur sy benoeming. Die Zimbabwiese unie het hom glo ter elfder uur meegedeel dat hulle hom wil benoem.
Agri SA het ook sy uitvoerende hoof, mnr. Omri van Zyl as Afrika-verteenwoordiger benoem, ’n posisie waarvoor hy teen De Jager te staan sal kom. Möller sê die Agri SA-bestuursraad sal nou moet besluit hoe die organisasie sy stem gaan aanwend wanneer daar vir die verskillende portefueljes gestem word in Helsinki, Finland in Junie.
“William van Nieu-Seeland neem tans waar en doen goeie werk, en as ons besluit om eerder vir Theo te stem sal ek vir William in persoon van so ’n besluit verwittig.” De Jager se ander teenstander by die stembus sal mnr. Fritz Glauser van Switserland wees.