
Mnr. Gerhard Kriel, wat op 3 Januarie vanjaar die leisels as uitvoerende hoof by die Melkprodusente-organisasie (MPO) oorgeneem het, het op 11 Februarie bedank.
Mnr. Colin Wellbeloved, voorsitter van die MPO-direksie, het Kriel se bedanking in MPO Bulletin aangekondig.
Kriel het nie gereageer op ’n boodskap van Landbouweekblad of hy kommentaar wou lewer nie.
Die MPO het in ’n vorige verklaring, toe sy aanstelling aangekondig is, gesê Kriel het meer as 30 jaar se sakeleierskapservaring, waarvan die meeste binne landboukontekste was, en dat hy ’n unieke stel vaardighede, perspektiewe en verhoudings na die MPO sou bring.
Kriel was voorheen onder meer hoofbestuurder van handel by OVK Landbou, besturende direkteur van Kriel Tegnologiegroep, uitvoerende hoof van Vrystaat Landbou, en ’n onafhanklike konsultant.
Wellbeloved het in die aankondiging oor sy bedanking gesê mnr. Fanie Ferreira, MPO-direkteur wat verlede jaar sedert Maart as uitvoerende hoof waargeneem het, neem nou weer waar.
Die MPO het verlede jaar deur ’n herstruktureringsproses gegaan en onder meer sy arbeidsmag met 60% verklein.