
’n Indonesiese afvaardiging, gelei deur mnr. Enggartiasto Lukita, Indonesiese minister van handel, het Suid-Afrika onlangs besoek waartydens verskeie beleggingsmoontlikhede bespreek is.
Die twee lande het onderneem om saam te werk om sakekontakte in die twee lande met mekaar te verbind om uitvoer-diversifikasie te ondersteun.
Terug in Indonesië het Lukita aangekondig dat sy land nou die aanbod rakende die beesvleis oorweeg. Hy het terugvoer gegee oor sy handelsbesoek aan Suid-Afrika en Nigerië.
Teen die helfte van die prys
Volgens die koerant, The Jakarta Post, het hy aangedui dat Suid-Afrika gevriesde beesvleis teen bykans die helfte van die huidige kleinhandelsprys kan aanbied.
Gevriesde beesvleis van Suid-Afrika was met hierdie bekendmaking gelyk aan VSA$3 per kilogram tot VSA$3,40/kg op kleinhandelsvlak. Dit was sowat die helfte laer as die VSA$6/kg wat die Indonesiese plafonprys daarvoor was.
“Suid-Afrika het ’n ernstige beroep gedoen vir 'n geleentheid om hul beesvleis na ons uit te voer. Tot dusver is die meeste van ons beesvleis uit Australië ingevoer. Ons het ook vleis van Indië, Mexiko en Chile ingevoer,” het hy luidens die koerant gesê. Die land se invoer van gevriesde vleis kan help om sy duur prys van vars vleis af te druk.
Die Indonesiese ministerie kyk nou na die aanbod en sal binnekort ’n besluit neem.