
'n Nuwe organisasie wat boere verteenwoordig wat rooivleis op veldtoestande produseer, die Grass Fed Association of South Africa (GFASA), is by die onlangse RPO-kongres in Bloemfontein aan produsente bekend gestel.
Mnr. Adrian Cloete, die voorsitter van GFASA, het in sy voorlegging aan boere verduidelik die doel van die nuwe organisasie is om die gemeenskaplike belange van betrokkenes by die veldvleisbedryf in Suid-Afrika te bevorder.
GFASA beoog om van die begin 'n rol te speel in verbruikersopleiding en die voordele van veldvleis en ook om'n doeltreffende waarde-toevoegingsketting daar te stel. Dit sluit in die naspeurbaarheid van produkte, vertrouensverhoudinge tussen produsente en handelaars en gemoedsrus oor omgewingsvriendelike produksiemetodes.
Cloete sê die veldvleisbedryf is waarskynlik groter as wat meeste mense besef. Die meeste boere wat speenkalwers produseer kan maklik by hul stelsel inskakel solank hulle net by die bepaalde vereistes hou.
Hy hoop dat GFASA aan hierdie boere die opsie sal bied om self hul kallers op die veld groot te maak en direk te bemark. Veldvleis is nie 'n nuwe ding nie, sê hy. Dit is eintlik maar hoe vleis vir baie jare van vroeër tye geproduseer is. "Ons het net nie bygehou met die bemarking van ons produksiestelsel toe voerkraalstelsels deur die Voerkraalvereniging bevorder is nie."
Nou hoop GFASA om 'n handelsmerk te word vaarvoor verbruikers sal uitkyk as hulle inkopies doen. Selfs wildsvleis wat volgens hul bepaalde vereistes geproduseer word, kan onder die GFASA-vaandel bemark word. Hy maak dit egter duidelik dat hoewel GFASA 'n produsente-organisasie is, dit nie in stryd met die RPO staan nie, maar eerder soos die Voerkraalvereniging as 'n been van die RPO gesien moet word.
Die bestuur van GFASA bestaan uit Cloete in die voorsitterstoel, Keith Harvey van Vryburg, Grant Odgers van Reitz, Herman Nel van Vereeniging en Caroline McCann van Johannesburg.
Vir meer inligting kontak Cloete by grassfedsa@gmail.com of skakel 082 213 2120.