Daarby gaan ’n algemene, landwye benadering tot brandbestuur nie die pyp rook teen die verhoogde risiko van wegholveldbrande wat klimaatsverandering meebring nie.
Dít was die gevolgtrekking van etlike omgewingswetenskaplikes op ’n webinaar oor brandbestryding wat deur die Werk met Vuur-program aangebied is. Werk met Vuur is ’n staatsgefinansierde brandbestrydingsorganisasie wat tans sowat 5 000 brandbestryders by meer as 200 basisse reg oor Suid-Afrika ontplooi het.
Prof. Sally Archibald, ekoloog verbonde aan die skool vir diere-, plant- en omgewingswetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand, het gesê beleid wat beheerde brande en ander aspekte van brandbestuur reg oor Suid-Afrika reguleer, behoort verfyn te word om diegene wat beheerde brande toepas, soos boere en natuurbewaarders, in ag te neem.