
Die enigste manier om te verseker dat die landbou ’n doeltreffende verbruiker van water word, is om na ’n meterstelsel oor te skakel, sê mnr. Trevor Balzer, waarnemende direkteur-generaal van Water en Sanitasie.
Die departement is tans besig om sy prysstrategie te hersien. Die landbou betaal nie vir die volume water wat gebruik word nie, maar volgens die hektare wat besproei word.
Balzer sê regulasies is nou opgestel om van ’n volume-gebaseerde na ’n meterstelsel van meting te beweeg. “Dit sal dit vir ons moontlik maak om waterverbruik doeltreffender te meet.
“Die landbou gebruik tot 60% van die beskikbare water in die land en dié sektor is noodwendig nie die doeltreffendste verbruiker daarvan nie.
“Die enigste manier hoe ons boere gaan kry om water doeltreffend te gebruik, is om die volume water te meet wat gebruik word.”
Die Kabinet het in Oktober verlede jaar die voorgestelde strategie terug na die departement gestuur om sekere veranderinge aan te bring. Die departement het ’n taakspan saamgestel wat kyk watter impak die koste op die sektor sal hê. Dié ondersoek word parallel met die verandering in die watertariefbeleid gedoen. Die departement stel ook voor dat perkkoste vir waterhulpbronnebestuur verwyder moet word.
Die landbousektor se koste vir waterhulpbronnebestuur is tans beperk tot 1,5 sent per kubieke meter plus die produsente-prysindeks (PPI) vir besproeiing.
Balzer sê die koste vir water in die landbou is nie verteenwoordigend van hoeveel dit kos om die water aan boere te lewer nie.