
Alle nuwe besproeiingsake of -uitbreidings sal die nuwe regulasies vir die aansoek om waterlisensies in terme van die Nasionale Waterwet moet volg.
Die voorgestelde regulasies is reeds meer as twee jaar gelede vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer, maar dit is eers onlangs gepromulgeer. Die Departement van Water en Sanitasie het reeds in 2013 begin werk aan veranderinge aan sy waterbeleid.
Mnr. Theo Boshoff, bestuurder: Regsintelligensie by Agbiz, sê hoewel die regulasies prosedurieel van aard is, kan dit ’n beduidende impak op die landbou-voedselwaardeketting hê.
Kan bestaande watergebruiksreg ruil
Die nuwe regulasies maak dit moontlik vir ’n boer om, indien hy so sou verkies (vrywillig), sy bestaande watergebruiksreg te verruil vir ’n waterlisensie. Dit is belangrik om aan te dui dat hoewel die Nasionale Waterwet by magte is om dit verpligtend te maak, pas hy dit nie toe nie.
Baie primêre produsente besit reeds watergebruiksregte en hulle vermoë om aan ’n nuwe prosedure vir waterlisensies te voldoen, is uiters belangrik vir landboubesighede omdat dit regstreeks die vraag na produksiemiddele en die beskikbaarheid van primêre landbouprodukte vir waardetoevoeging raak.
Verder word grond se produksievermoë grootliks beïnvloed deur die beskikbaarheid en toeganklikheid van water, wat op sy beurt die waarde van die grond beïnvloed.
Boshoff sê dis daarom in die belang van landboubesighede dat die regulasies nie vereistes daarstel waaraan die produsent nie kan voldoen nie.
Wil oor nuwe regulasies gesels
Hoewel in hierdie stadium nie formele geleentheid is om kommentaar te lewer nie, probeer Besigheidseenheid Suid-Afrika, ondersteun deur Agbiz, ’n vergadering met die Departement van Water en Sanitasie belê om die nuwe regulasies te bespreek.
Wat volgens Boshoff ietwat kommerwekkend is, is dat die regulasies die verpligting vir konsultasie op die skouers van die aansoekers vir lisensies lê. Hierdie prosedure blyk soortgelyk te wees aan die voorsienings rakende die openbare konsultasieproses by die Wysigingswetsontwerp vir die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne, waar myn- of prospekteeraansoekers die konsultasieproses self moet fasiliteer.
“Dit is ’n baie veeleisende verpligting om op die skouers van waterverbruikers te plaas, wat baie keer maar klein- tot mediumondernemings is wat finansieel onder druk is en dalk net nie die hulpbronne of kundigheid het om die taak uit te voer nie.”
Voog van waterhulbronne
Hy meen die Departement van Water en Sanitasie, as die voog van die nasie se waterhulpbronne, nie kan net toegelaat moet word om homself van die konsultasies te distansieer en die taak aan die aansoekers oorlaat nie.
Die regulasies neem ook nie parallelle prosesse in ag nie. Waar ’n nuwe waterlisensie verlang word om landbou-aktiwiteite uit te brei, moet omgewingsgoedkeuring ook gekry word. Dit sal ’n duplisering van prosesse voorkom, as omgewingskwessies binne die proses vir omgewingsimpakstudies hanteer kan word.
Boshoff sê die vorige weergawe van die regulasies wat twee jaar gelede gepubliseer was, het voorsiening gemaak dat prosesse in lyn met die “een omgewingsbenadering”, erken word. Dit ontbreek egter nou in die finale weergawe van die regulasies.
’n Voorstel in die regulasies wat sonder twyfel verwelkom kan word, is dat die oorweging- en besluitnemingsproses vir die lisensie, sedert die indiening van die aansoek, binne 300 dae moet geskied.