
GrainCo, die graan-arm van die landboumaatskappy BKB, het ‘n nuwe selfoon-toep vir sy werknemers en kliënte bekend gestel waarmee hulle voortdurend mobiele toegang tot die maatskappy se interne inligtingstelsel het.
Die toep kan gratis vir Blackberry-fone, Apple se iPhone en androïed-fone afgelaai word. Boere kan daarmee onmiddellike toegang kry tot inligting oor hul graan-lewerings by GrainCo-depots, wat byvoorbeeld graderings en gewigte insluit.
Ook vorige lewerings se inligting, en verslae wat meer in diepte is, kan ‘n boer nou danksy dié toep onmiddellik op sy selfoonskerm bekom, sonder dat hy eers ‘n GrainCo-kantoor in werksure hoef te bel en dit aan te vra.
'Volgende vlak van tegnologiese verdering'
Die maatskappy-bestuur en –werknemers sal daarmee ook voortdurende mobiele toegang tot die maatskappy se sake-inligting hê.
Mnr. Tony Simpson, BKB GrainCo se IT-bestuurder, sê hulle wou ‘n mededingende voordeel ontwikkel deur kliënte en personeellede via hul selfone gemagtigde toegang tot spesifieke inligting te gee. Danksy die hulp van ‘n internasionale sagteware-maatskappy, Magic, kon hulle die enkele toep vir al drie die verskillende selfoon-platforms ontwikkel.
Hulle hoop dit sal ‘n belangrike hulpmiddel wees vir boere wat nie altyd kantoor-gebonde is nie, en dikwels op plase met internet-verbinding sukkel.
“Dit neem ons na die volgende vlak van tegnologiese vordering,” sê hy.