
Dit voel soms of daar tans meer probleme as geleenthede is, maar die sitrusbedryf is sterk genoeg om enige struikelblokke te oorkom, sê mnr. Hannes de Waal, uitvoerende direkteur van die Sondagsrivier-sitrusmaatskappy. Hy is op Vrydag 25 Maart as nuwe voorsitter van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV) aangewys.
“Ons het die beste boere ter wêreld en hulle is taai. Ons het ook goeie grond, water en kennis. Ek is daarom baie optimisties oor die bedryf se toekoms.”
Hy sê daar is tans baie probleme vir die bedryf, veral weens die verskepingskrisis en verskepingskoste wat aansienlik toegeneem het. “Naas produksie is verskeping jou grootste uitgawe. Ons voorspel egter dat dit hopelik in die laaste helfte van die jaar sal afplat en in die toekoms sal normaliseer.”
Hy sê dit is noodsaaklik dat die plaaslike sitrusbedryf homself moet promoveer en eerder konsentreer op verbruik as prys ten einde verdere markte vir Suid-Afrikaanse sitrus te verseker. “Die plaaslike sitrusbedryf groei, maar ander lande soos Spanje en Egipte s’n groei ook. Ons is ook afhanklik van ’n groeiende wêreldekonomie. Ons sal harder moet werk om die wêreld se verbruikers te oortuig dat Suid-Afrikaanse produkte die beste en bekostigbaarste is.”
Soos die res van die wêreld, beïnvloed die oorlog in Oekraïne die plaaslike sitrusbedryf. “Daar is nie maklike oplossings daarvoor nie. Bemarkingsprogramme is baie rigied en ’n mens kan nie net 10% van jou vrugte van een mark na ’n ander oorplaas nie. Ons is nie in ’n posisie waar ons moet ophou verskeep nie, maar dit is op die oomblik logistiek en finansieel moeilik om te verskeep.”
Hy meen dat hoe langer dié oorlog voortsleep, hoe groter sal die impak op vrugte- en groentebedrywe wêreldwyd wees aangesien Rusland en Oekraïne ’n belangrike uitvoermark vir vars produkte is.
Samewerking in die landbou was nog altyd belangrik, want as die son op die een skyn, skyn dit ook op die ander, sê hy. “Ons sal definitief meer moet saamwerk, veral aangesien die bestuur van jou eksterne omgewing so belangrik geword het. Ons sit onder meer met infrastruktuur wat die regering moet verskaf. Dit is nie in ’n goeie toestand nie en sal vir die afsienbare toekoms nie goed wees nie.
“Mense sal mekaar in die oë moet kan kyk en met oplossings vorendag kom. Die kultuur van samewerking en kameraadskap wat sedert deregulering geskep is, is besonder sterk al produseer ons dieselfde produkte en ding ons met mekaar mee.”
Hy sê deur verhoudinge tussen die belanghebbendes in die bedryf verder te versterk, sal kennis en geleenthede ontsluit kan word. “Ek is ’n brugbouer wat daarvan hou om mense bymekaar te bring sodat ons saam vorentoe kan beweeg.”