
Die nasionale landboubemarkingsraad (NLBR) oorweeg die aansoek vir ’n volgende vierjaar-tydperk soos versoek deur die primêre groepering vir rooivleis en lewendehawe (RMLPC) bestaande uit die Rooivleisprodusente-organisasie, die abattoirvereniging, SA voerkraalvereniging en die ontluikende rooivleisprodusente-organisasie. Die RMLPC het ook ’n maatskappy sonder winsbejag, die Rooivleisbedryfsdienste, geskep om die statutêre maatreëls te bestuur.
Die voorgestelde heffings volgens die aansoek sal vir die eerste jaar (5 November 2022 tot 4 November 2023) R13 per bees en R2,53 per skaap of bok wees by die slagpunt (BTW uitgesluit). Die jaar daarna sal dit onderskeidelik R13,65 en R2,66 wees, dan R14,33 en R2,79 en in die laaste jaartydperk R15,05 en R2,93 wees.
Die beraamde inkomste van die voorgestelde heffings sal wissel van R42,2 miljoen vir die eerste jaar tot R50,5 miljoen in die 2025-’26-boekjaar. Daarvan sal 30% gebruik word vir dieregesondheid, openbare gesondheid en biosekerheid (onder meer die stryd teen bek-en-klouseer, naspeurbaarheid en produkveiligheid). ’n Verdere 15% sal gaan om marktoegang te verbreed en 25% vir mededingendheid en volhoubaarheid (onder meer produkontwikkeling, bedryfsinligting, navorsing en verbruikersopvoeding).
Ingevolge die wetgewing oor die bemarking van landbouprodukte moet 20% van die inkomste uit die statutêre heffing ook vir inklusiewe groei (transformasie in die ontwikkelende sektor) gaan en 10% mag vir administrasie en bestuur benut word.
Die NLBR wys daarop dat die wetgewing bepaal dat ’n statutêre heffing nie 5% van die prys by die eerste verkoopspunt mag oortref nie. In die geval van die voorgestelde heffingsbedrae is die heffing op ’n beeskarkas op 0,11% van die riglynprys bepaal en dié vir skape en bokke op 0,13%. Dit is ver minder as die maksimum wat toegelaat word.
Die raad sê die voorgestelde statutêre maatreëls wat ander aspekte soos registrasie, rekordhouding en verslagdoening betref, blyk ook gereed te wees. Daar sal ná die kommentaartydperk aanbevelings aan die minister gedoen word.