
Die 2017 Mitsubishi Triton, wat pas in Suid-Afrika aangekom het, is die vyfde geslag in die Colt/Triton-familie. Volgens die vervaardiger is dit ook sy mees gevorderde bakkie nog, met 'n uitstekende balans tussen goeie hantering en rygerief én die laai- en vragdravermoë van 'n ware werkesel.
Die nuwe reeks trap reeds spore in Australië, Brasilië, Europa en die Midde-Ooste, en Mitsubishi maak sy plaaslike Triton-debuut met die 2.4 Di-DC MIVEC dubbelkajuit-bakkie.
Mnr. Nic Campbell, hoofbestuurder van Mitsubishi Motors Suid-Afrika, sê die nuwe Triton is totaal herontwerp met nie minder nie as 185 verbeteringe wat vooraf deeglik uitgetoets is.
Beter posisie vir die bestuurderEsteties streef die nuwe bakwerkontwerp 'n atletiese voorkoms na. Hierdie veranderinge strek byvoorbeeld vanaf die dieper en versterkte laaibak, 'n meer vaartbelynde enjinkap met minder sleur, 'n beter bestuurdersposisie met beter sig en gerief. En daardie kenmerkende J-streep tussen die bakwerk en die laaibak is aangepas vir beter toegangsgerief van die agterste passasiers … veral daardie langes onder hulle.
Die gevormde enjinkap, fors sierrooster en omvou-hoofligte vloei in 'n prominente hoë skouerlyn wat netjies verby die deure by die nuwe agterlighulse aansluit. Die gevormde laaideksel kan nou met een hand oop- of toegemaak word. Dit het 'n geïntegreerde remlig wat dus nie deur ‘n vrag verbloem kan word nie.
Blink wiele'n Klompie strategies-geplaaste chroom-versierings en 17 duim allooiwielvellings rond die voorkoms-prentjie af. Die nuwe Triton spog met 'n hoë toerustingsvlak asook 'n indrukwekkende lys aktiewe en passiewe veiligheidskenmerke.
Mitsubishi het duidelik moeite gedoen met 'n vars voorkoms en die ry- en ritgerief van die insittendes, maar wat van daardie nuwe enjin?
Dit is 'n nuwe geslag viersilinder turbodieselenjin met ‘n aluminium-enjinblok en 'n relatiewe lae drukverhouding (vir ‘n dieselenjin) van 15.5:1 wat goeie wringreaksie teen die laer enjinsnelhede moontlik maak.
Kragtige enjinDie aluminium-enjin het staal suiervoerings en 'n gevorderde geïntegreerde direkte deelbuis-dieselinspuitstelsel. Hierdie enjin weeg 30 kg minder as sy voorganger. Dit lewer drywing van 133 kW teen 3 500 r/min met 'n wringkragpiek van 430 Nm teen 2 500 r/min. Die vervaardiger se brandstofverbruiksyfers is 7,6 liters per 100 km in 'n gekombineerde siklus.
'n Sesgang-handratkas of 'n outomatiese vyfgangratkas is beskikbaar en alle 4X4-weergawes het 'n grondvryhoogte van 215 mm, ‘n aantreehoek van 28 grade,’n vertrekhoek van 22 grade en 'n oortreehoek van 25 grade.
Vier dubbekajuit-modelle (4X2 en 4X4) is beskikbaar:
Triton 2.4 Di-D 4x2 (handrat) - R479 900
Triton 2.4 Di-D 4x2 (outomaties) - R499 900
Triton 2.4 Di-D 4x4 (handrat) - R539 900
Triton 2.4 Di-D 4x4 (outomaties) - R559 900.
Met hierdie spogperd in die Mitsubishi-stal is dit net moontlik dat die wedders in die dubbelkajuitklas effe meer gaan kopkrap vorentoe . . .