
'n Nuwe uitvoermark vir Suid-Afrikaanse sitrus – Thailand – is van 31 Mei 2012 af beskikbaar, sê die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye. Luidens 'n verklaring het onderhandelinge vir die daarstelling van dié mark 14 jaar gelede reeds begin.
Die stadige vordering met die proses word toegeskryf aan die protokol vir bilaterale fitosanitêre maatreëls wat die Wêreld-Handelsorganisasie (WTO) voorskryf. Dié proses is baie afhanklik van die tegniese vermoë van beide partye betrokke.
Vrugtesoorte bevoordeel
Die vrugte wat deur dié mark bevoordeel sal word is Navel en Valencia soetlemoen-kultivars, Clementine en Satsuma nartjiekultivars, die Eureka-lemoenkultivar en die Marsh, Rose en Star Ruby pomelo-kultivars.
Die vrugte wat luidens die ooreenkoms uitgevoer word, sal deur 'n kouebehandeling-proses moet gaan om te verseker dat motte en vrugtevlieë nie uitgevoer word nie. Verder sal net vrugte wat kommersieël verbou word, op plase wat deur die departement goedgekeur is, uitgevoer kan word.
Meer inligting is op die departement se webtuiste beskikbaar by: www.daff.gov.za