Die Suid-Afrikaanse uitvoer van landbouprodukte na sy nuwe vennote – van die Ooste tot Arabiese lande – toon gunstige neigings.
Die land se uitvoer van primêre landbouprodukte en verwerkte kos het van R10 miljard in 1996 tot sowat R48 miljard verlede jaar gestyg.
Suid-Afrika is egter steeds ’n groot invoerder van verwerkte voedsel wat verlede jaar R10 miljard beloop het. Dié neiging dui aan dat die land daaraan moet werk om belegging in die verwerkingsektor aan te moedig, het me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, tydens die voorlegging van haar departement se begroting in die Parlement gesê.
Inisiatiewe vir voedselsekerheid
Die begroting behels R5,8 miljard vir die boekjaar 2012/’13. Landbounavorsing kry R935 miljoen, R940 miljoen gaan vir plant- en diereproduksie (insluitend inspeksies en laboratoriumdienste), R868 gaan na inisiatiewe om voedselsekerheid te bevorder, R350 vir voorligtingsbeamptes en nuwe boere, internasionale handel kry R89 miljoen, koöperatiewe ontwikkeling kry R74 miljoen en R50 miljoen is vir die bevordering van landbouverwerking en bemarking geoormerk.
Die Illima/Letsema-program kry R415 miljoen, LandCare R115 miljoen en die omvattende ondersteuningsprogram vir boere (Casp) kry R1,5 miljard. Van die Casp-geld gaan R50 miljoen vir die herstel van infrastruktuur by landboukolleges, R322 miljoen vir die herstelplan vir voorligtingsbeamptes, R762 miljoen vir infrastruktuur (meestal op plase) en R398 miljoen vir infrastruktuur wat deur vloede beskadig is.
Uitvoer na Asië
Die uitvoer van landbouprodukte na die Asiatiese streek het van R1,42 miljard in 2006 tot R4,03 miljard in 2010 toegeneem.
Die belangrikste toename in die uitvoer van landbougoedere na Asië vanaf 2001 tot verlede jaar is na China (van 1% tot 3%), Suid-Korea en Hongkong (albei van 2% tot 3%). Joemat-Pettersson het gesê uitvoer na China is die afgelope twee jaar bestendig met R2,1 miljard.
Suid-Afrika het ’n gunstige ooreenkoms met Indië vir bosbouprodukte ter waarde van R350 miljoen en ’n surplus van R1,1 miljard in sy handel met Rusland.
14 Mei 2012