
Die Kroon-boma kan 800 tot 900 mense huisves, met lugversorging en platskerm-TV’s waarop die veilingsverrigtinge gewys word, sê dr. Paul Pienaar, een van die nuwe direkteure.
Sy mede-direkteure is die bekende veeboer-broers mnre. Burnie en Dennis Staal van Kroonstad. Die nuwe kompleks sluit 90 onderdak-krale vir beeste en skape in, asook 100 onderdakbomas en vier groot, oop bomas vir wild.
Pienaar sê hul hoofdoel is om ’n professionele, gebruikersvriendelike en geografiessentrale diens aan die kopers en verkopers van stoet- en kommersiële vee en wild te lewer. Enigeen kan die kompleks vir veilings of gesellighede huur.
Die eerste veiling is op Donderdag 13 Februarie, naamlik ’n CMW-aanteelveiling met ’n beoogde 1 500 koeie. Onder die ander veilings in die volgende paar weke is die BW Staal-aanteelveiling, die Osterloh-Brahman-Beefmaster-veiling, die Nello-Boranveiling en die Bos Blanco-Beefmaster-veiling.