
Agt aanvalle in vier dae, vier mense vermoor. Dít is hoe dit in die afgelope week op Suid-Afrikaanse plase en kleinhoewes gegaan het. Landbou.com het meer uitgevind oor die slagoffers van dié agt aanvalle. Die inligting is verskaf deur mnr. Henry Geldenhuys, voorsitter van die TLU SA se veiligheidskomitee.
In die nuutste aanval is mnr. Anton Muller van Vischkuil naby Springs in sy huis op 'n kleinhoewe deur vier aanvallers oorval. Die aanvallers het Muller se sekuriteitshek, wat toegang verleen na die slaapkamers in die huis, oopgebreek. Muller is met 'n strykyster gebrand en die aanvallers het geld geëis. Hulle het verskeie items in die huis gesteel. Die saak word deur die Springs-polisie ondersoek.
Mnr. R. Lemmer is Maandagoggend op sy plaas in die distrik Winterton in KwaZulu-Natal aangeval. Lemmer was by sy beeskraal besig toe werkers opmerk die slot op die beeskraal is moontlik geknip. Hulle was besig om ondersoek in te stel toe 'n gewapende aanvaller op die toneel verskyn en op Lemmer begin skiet het. Lemmer het in reaksie die aanvaller doodgeskiet. Lemmer is in die aanval gewond en is tans in stabiele toestand in die hospitaal.
Me. Debbie Vorster van die plaas Biesiesbult naby Brandfort in die Vrystaat is Maandagoggend oorval terwyl sy besig was om met wasgoed te werk. ‘n Gewapende rower het haar met ‘n mes gedreig en met ‘n pyp geslaan. Vorster het hoofbeserngs opgedoen. Die plaaslike boervereniging het vinnig reageer en Vorster te hulp gesnel. Geen verdagtes is tot op hede vasgetrek nie.
Mnr. Hans Helmbold van Kroonstad is Maandag tydens 'n gewapende roof op sy kleinhoewe beseer. Hy is deur die plaaslike buurtwag in die veld gevind en is tans in 'n stabiele toestand in die hospitaal. Helmbold se selfoon en beursie is gesteel.
Mnr. James Munroe van die plaas Ncanduzi naby Barberton in Limpopo is Sondag saam met twee ander mense in sy huis oorval en vasgebind. Die aanvallers het deur 'n badkamervenster toegang tot die huis gekry. Munroe is oor die kop slaan en is behandel vir dié wond. Die verdagtes het 'n skootrekenaar, DVD-speler, selfoon en Munroe se bakkie-sleutels gesteel. Hulle het egter nie sy bakkie gesteel nie. Die polisie ondersoek 'n saak van gewapende roof.
Mnr. Arno Niehaus is Saterdag op sy plaas Boschenfontein Kopjes, waar hy die Big Creek Lodge bedryf het, oorval en verwurg. Vermoedelik twee aanvallers het persoonlike items van Niehaus gesteel. Die polisie ondersoek tans die saak en het nog geen verdagtes in hegtenis geneem nie.
Mnr. Piet en mev. Tilla van Zyl van die distrik Mokopane in Limpopo is Saterdag (19 Augustus) op hulle plaas deur aanvallers geskiet. Hulle huis is geplunder en hulle lyke is die volgende dag deur familie ontdek. Van Zyl was 'n bekende renosterboer. Die polisie ondersoek tans die moorde maar geen arrestasies is tot dusver gemaak nie.
Mnr. Anton Smuts van plaas Uitmekaar naby Kinross in Mpumalanga is Saterdag tydens 'n aanval met 'n 9mm-pistool doodgeskiet. Sy liggaam is in 'n bakkie gelaai en by 'n nabygeleë informele nedersetting aan die brand gesteek. Die polisie ondersoek 'n saak van moord.