
Mnr. Matthew van Heerden, wynmaker en wingerdboukundige van die wynplaas Uva Mira by Stellenbosch, is as die nuutste voorsitter van die Suid-Afrikaanse Chardonnay-forum aangestel.
Die forum beywer hom daarvoor om die beeld van Suid-Afrikaanse Chardonnay te poets en ook om verbruikers- en produsentebewustheid rondom hierdie kultivar te skep.
Van Heerden, wat al vele pryse vir Chardonnay ingeryg het, neem die leisels by me. Kathy Jordan van Jordan-wynlandgoed naby Stellenbosch oor.
Van Heerden spog met ‘n rits gesogte toekennings vir sy Chardonnay. Hieronder tel ‘n goue- en streekstrofee vir die Single Vineyard Chardonnay by die Decanter Wêreldwyn-toekeninngs in Londen (2010). Hy is ook in 2006 as die Beste Suid-Afrikaanse produsent van die jaar en vir die Beste Chardonnay in die Wêreld vereer by die Internasionale Wyn- en spirituskompetisie.
Hy word bygestaan deur mnr. Francois Haasbroek van Waterford, mee. Kathy Jordan, Mia Martensson van The Winery of Good Hope, mnr. Philip Jonker van Weltevrede en me. Rianie Strydom van Haskell Wingerde.
Luidens ‘n verklaring beplan Van Heerden en die nuwe komitee om verskeie geleenthede rondom Chardonnay te organiseer. Onderwerp-spesifieke werkswinkels vir bedryfslede is ook in die pyplyn.
10 Februarie 2011