
Die perk waarby ’n dam by die Departement van Waterwese geregistreer moet word, word in die voorgestelde nuwe magtigings vir watergebruikers oor groot gebiede van 10 000 tot 2 000 kubieke meter verlaag.
Dié verlaging hou die grootste bedreiging vir die suksesvolle inwerkingstelling van die voorgestelde hersiene algemene magtigings in, meen mnr. Willie Enright, ’n konsultant van Kaapstad.
Dit is onbestuurbaar en verwarrend, sê Enright, ’n voormalige spesialis-ingenieur van die departement en kenner van die Waterwet. “Duisende klein opgaardamme word met dié verlaging binne die departementele proses van registrasie gebring, wat reeds oorlaai is.”
Algemene hersienings
Dié verlaging vorm deel van ’n stel hersiene algemene magtigings wat die departement onlangs in die Staatskoerant vir kommentaar afgekondig het.
Mnr. Francois van der Merwe, ingenieur van die Departement van Waterwese, sê in reaksie hierop die lisensieproses is intussen opgeknap, en dit behoort deesdae nie langer as ses maande te duur om ’n lisensie te bekom nie.
Hy stel die volgende voor:
* Kontak jou streekkantoor van die Departement van Waterwese, en maak ’n afspraak vir ’n konsultasie wat die aansoek om ’n lisensie moet voorafgaan.
* Jy sal in die konsultasie aansoekvorms kry, en al die vereistes en dokumente wat nodig is, sal uiteengesit word. As jy byvoorbeeld vir ’n relatief groot onttrekking van grondwater sou aansoek doen, mag ’n geohidrologiese ondersoek vereis word.
* Hou noue kontak met die streekkantoor sodra jou aansoek en al die nodige inligting ingedien is, om uit te vind of enige verdere inligting nodig is.
* Lees meer hieroor in Landbouweekblad.