
Die onlangse langdurige en byna ongekende groot sprinkaanuitbrekings in groot dele van Suid-Afrika en die verwagte veranderinge in klimaat en grondgebruik maak dit ’n kwessie van nasionale belang, veral omdat dit hoogs produktiewe ekostelsels en voedselsekerheid bedreig.
Dis waarom ’n groep wetenskaplikes onlangs ’n navorsingswerkgroep oor weiveld en sprinkane gestig het.
Dr. Igshaan Samuels, veldekoloog by die landbounavorsingsraad (LNR) en koördineerder van die groep, sê dis ’n groep vir sprinkane én veld omdat daar ’n regstreekse verband tussen weiveldbestuur en sprinkaanuitbrekings is. “Daar is bevind dat swak weiveldtoestande met hul verlaagde stikstofvlakke in ander lande sprinkane laat swerm het en uitbrekings veroorsaak.”
Die hoofdoelwit van die groep is om die kennisgapings oor sprinkane en weiveld in Suid-Afrika te vul en strategieë voor te stel wat kostedoeltreffender en vriendeliker teenoor die omgewing en menslike gesondheid is, en terselfdertyd voortgesette, volhoubare voedselproduksie in Suid-Afrika verseker.
Samuels sê chemiese bespuiting is die hoofmetode van sprinkaanbestryding. “Dit het die regering vanjaar reeds R80 miljoen gekos. Dis nie bekend of dit finansiering volhoubaar is nie. Bespuiting het ook ’n nadelige impak op ekostelsels.”
Om Suid-Afrika se komplekse sprinkaanprobleem te takel, volg hulle ’n interdissiplinêre en transdissiplinêre benadering met weiveldwetenskap as die sentrale fokuspunt.
Die afdeling veld-en-voerwetenskap van die LNR het ’n multidissiplinêre span van 20 kundiges genooi wat verskillende universiteite en navorsingsorganisasies, soos die universiteite van die Vrystaat, Pretoria, Wes-Kaapland en Witwatersrand, Unisa, SAEON, SanParke, die Grootfontein-landbou-ontwikkelingsinstituut, die LNR en Renu-Karoo verteenwoordig. Lede van die groep is weiveldwetenskaplikes, entomoloë, klimaatspesialiste, grondkundiges, afstandwaarnemingskundiges, landbou-ekonome en dierefisioloë.
Die groep kry insette van boere te kry oor die tipe inligting wat hulle graag wil hê om bestuursbesluite te neem wat sprinkaanuitbrekings sal verminder.
Samuels sê hulle gaan eersdaags vergader met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en diegene wat verantwoordelik is vir sprinkaanbestryding, om vas te stel hoe húlle kan help om die groep se doelwitte te bereik.
“Die groep sal ook in Julie ’n spesiale sessie by die Weidingsvereniging van Suider-Afrika oor weiveld en sprinkane aanbied om insette van belanghebbendes te kry. Daardie inligting sal gebruik word om ’n navorsingsplan vir die volgende vyf jaar met die samewerking van die multidissiplinêre span te ontwikkel.”
Boere wat hul sê wil sê oor sprinkaankwessies kan op Woensdag 8 Junie Landbouweekblad en die Victoria-Wes-landbouvereniging se velddag op Victoria-Wes bywoon.
Samuels en sy kollega mnr. Clement Cupido sal die velddag oor die werkgroep se planne toespreek en vrae beantwoord.