
Ek waarsku al lank in hierdie rubriek teen die misbruik van trusts om belastingspeletjies te speel. Die wysigingswetsontwerp op belastingwette (2016) wat pas die lig gesien het, gaan dinge nou vasvat en ek kan maar net sê “jammer” vir diegene wat nie wou luister nie. Nou gaan julle voel.
Dié van ons wat wakker sit, kon die rookseine al in 2013 sien toe mnr. Pravin Gordhan, Minister van Finansies (in sy eerste ronde), in sy begrotingsrede begin geluide maak het teen die misbruik van die deurvloeibeginsel om verpligtinge ten opsigte van inkomste- en kapitaalwinsbelasting te verminder.
Dié beginsel laat toe vir inkomsteverdeling (party se hantering hiervan kom op belastingbedrog neer) en dus kleiner totale belastingaanspreeklikheid. Trusts is ook ’n doeltreffende middel om op boedelbelasting te bespaar deur groeibates in ’n trust te hou en só die effek van boedelbelasting op die groei van die bate te beperk.
Die bates word gewoonlik by wyse van ’n lening (meestal rentevry) na die trust oorgedra. Só word die onmiddellike uitwerking van geskenkebelasting die hoof gebied. Dit hanteer ook die probleem van geld in die trust hê om die bate mee te kan koop. Artikel 7 in die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962) bevat die sogenoemde teenvermydingsmaatreëls, maar dit het duidelik nie misbruik doeltreffend voorkom nie.
Die 2016-wetsontwerp stel ’n nuwe artikel 7C voor, vir veral rentevrye- en lae-rente lenings aan trusts. Indien dit deurgevoer word, sal dit op 1 Maart 2017 van krag word. Die bestaande artikel 7 het klem geplaas op die vrygewigheid van die lenings. Dit is steeds beskikbaar – vir eers – sodat Jan Taks belastingvermyding kan hanteer.
Die voorgestelde artikel 7C gaan verder en dui op ’n nuwe benadering van die fiskus. Met die bestaande bedeling is die doel om die lener te keer om sy belastingaanspreeklikheid oor te skuif na die begunstigdes van die rentevrye lening en sodoende die voordeel van ’n laer belastingkoers te bekom – aldus inkomsteverdeling.
Dit bied aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ’n oplossing wat makliker toepasbaar is, hoewel dit beperk word tot die belastingbetaler se gade, kinders en ander verwante persone, ingesluit verwante maatskappye. Dit hanteer rentevrye lenings en lenings teen ’n laer koers as die amptelike koers (tans 8%) aan sulke persone.
Die lener sal geen aftrekking, verlies of vermindering toegelaat word ten opsigte van die vermindering of afskryf van skuld nie, of die onvermoë om betaling vir die skuld te in nie. Dit sal van toepassing wees, ongeag of die lening rentedraend is of nie. Waar die lening aan ’n verbonde trust toegestaan word, sal ’n bedrag gelyk aan die amptelike rente, of die verskil tussen werklike rente en die amptelike rente, bygetel word by die belasbare inkomste van die verbonde persoon wat, direk of indirek, die lening aan die trust gefinansier het.
Verder sal die persoon wat aanspreeklik is vir hierdie geagte rente verplig word om hierdie bykomende belasting te verhaal binne drie jaar. So nie, sal die bedrag as ’n skenking geag word en gevolglik sal geskenkebelasting betaalbaar wees. Die jaarlikse kwytskelding van R100 000 vir individue sal nie van toepassing wees nie.
Artikel 7C sal ook ’n invloed hê op die toewysing van inkomste deur trustees in terme van die deurvloeibeginsel (artikel 25b van die wet) aan begunstigdes, maar nie uitbetaal word nie en as ’n lening aangedui word.
Met die toekenning van inkomste of kapitaalwinste verkry die begunstigde ’n gevestigde reg, wat hom onder meer blootstel aan meer boedelbelasting. Deur ook die som aan te toon as ’n lening, maak dit die deur oop om in die toekoms aan dubbele belasting onderwerp te word. Ek meen rekenmeesters moet sorg die finansiële state dui duidelik aan watter bedrae is leningsrekenings en watter bedrae is opgehoopte kapitaal en/of inkomste.
Navrae: Mnr. Nico van Gijsen, tel. 021 461 2067; e-pos: nico@finlac.com.
- Mnr. Nico van Gijsen is lid van Fisa en besturende direkteur van Finlac, ’n onafhanklike finansiëlerisiko-bestuursmaatskappy.