Die landbou-onderneming NWK het kragte met ‘n veevoerfabriek in Botswana gesnoer. Luidens ‘n verklaring het die onderneming ‘n 50%-belang in Mont Trade (Edms) Bpk bekom.
Dié transaksie stem ooreen met die NWK se strategie om betrokke te raak by die landbou in Suider-Afrika.
NWK bedryf reeds sedert 2010, in vennootskap met Mont Trade – deur middel van Optifees Botswana (Edms) Bpk - ? veevoerfabriek in Gaborone. “Deur die verkryging van die belang in Mont Trade word die net nou wyer gespan tot voordeel van NWK se aandeelhouers,” lui die verklaring.
Mont Trade is in 1999 gestig en bedryf ‘n aantal takke in Botswana waar dagoud-kuikens, veevoer, veemedisyne, kunsmis, saad en meganisasietoerusting verkoop word.
Mnre. Vlado Rubezic en Jelica Simic, Mont Trade se stigterslede, sê die ooreenkoms bied geleenthede vir groei aan hulle maatskappy. “NWK sien dit ook as ‘n geleentheid om by gevestigde rolspelers – wat vertroud is met die Botswana-mark en die land se besigheidsomstandighede – in te skakel,” sê mnr. Danie Marais, besturende direkteur van NWK.
Die transaksie is tans onderhewig aan goedkeuring van die buurland se Mededingingskommissie.
15 April 2012