
Die groep, wat sedert 1909 sake doen, se tussentydse finansiële resultate vir die boekjaar tot 31 Oktober toon ’n inkomste van R2,03 miljard en en ’n wins van R179 miljoen, vergeleke met ’n inkomste van R1,63 miljard en ’n wins van R154 miljoen in die ooreenstemmende tydperk van die vorige jaar.
Dié goeie vertoning beteken dat aandeelhouers ’n meevaller kry. Die direksie het ’n dividend van 31 sent per aandeel – R35 miljoen in totaal – vir uitkering aan aandeelhouers verklaar.
Voortgesette gunstige landboutoestande, tesame met ’n gedrewe groeistrategie, het rekordresultate vir die groep tot gevolg gehad, sê die groep in sy verklaring.
NWK Beperk het vroeër vandeesweek met Louis Dreyfus (Edms.) Bpk. ooreengekom dat NWK die oorblywende 50% aandeelhouding in Epko – sy sonneblomolieverwerkingsaanleg op Lichtenburg – op 30 April 2023 sal koop. Die koopprys vir die 67 000 aandele is R166 miljoen. Dié transaksie stel NWK in staat om sy aandeel in die nasionale sonneblomoliemark te vergroot.
Vanjaar het die uiters nat seisoen die gehalte van graan en oliesade nadelig geraak, lui die verklaring. “Bonormale reënval is van April tot Julie vanjaar gemeet, wat boere se oesproses met ten minste 30 dae vertraag het.” Die lewering van graan by NKW se silo’s is ook moeiliker gemaak deur die groot toename in die lewering van laer grade.
Graanopbrengste was nietemin beduidend hoër as die langtermyngemiddelde, met hoër graan- en oliesaadpryse wat die ondernormale graangehalte effens geneutraliseer het, sê NWK.
Die groep se direksie en bestuur is optimisties oor sy toekomsvooruitsigte, grootliks danksy langtermynweervoorspellings wat baie gunstig is vir die somergraan- en oliesadeproduksiegebiede.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.