Wolproduksie in Suid-Afrika is tans sowat 42 miljoen kg. “Dit is rede tot kommer en ek wil nie eens daaraan dink dat dit onder 40 miljoen kg kan daal nie,” het mnr. Harry Prinsloo, nasionale voorsitter van die NWKV, op die jaarvergadering van die Wes-Kaapse tak van dié organisasie by Wellington gesê.
’n Projek is in die lewe geroep waarby die wolbedryf binne vyf jaar die dalende neiging wil omkeer en Suid-Afrika se wolproduksie tot minstens 50 miljoen kilogram wil verhoog. Prinsloo het gesê produksie daal ook in die Wes-Kaap. Dit kan dalk voor die deur van slenkdalkoors en droogte gelê word. Die wolprys is egter hoog en boere behoort alles in die stryd te werp om produksie te verhoog.
“Moenie in die strik trap om te dink dat ‘skaars’ en ‘min’ tot ons voordeel kan wees nie. Ek is oortuig dat die teenoorgestelde kan gebeur, naamlik dat die wolbedryf kan kwyn, wat internasionaal aansien kan verloor as bestellings nie volhoubaar gehandhaaf kan word nie.”
Prinsloo het ‘n paar sake genoem wat die dalende wolproduksie kan stuit:
• ’n Gesamentlike poging om wolskaapboerdery as ’n lonende bedryfsvertakking in tradisionele wolskaapgebiede te handhaaf.
• Studiegroepe wat werksaamhede uitbrei en só betroubare data op plaasvlak handhaaf.
• Die beginsel wolskaapboerdery die beste van twee wêrelde is, te herbeklemtoon.
• Weer geesdriftig “skaap te praat”.
• Die Regering bewus te maak dat wolskaapboerdery ’n meganisme vir werkskepping is en só armoede kan beveg.
• Maatreëls in te stel vir probleemdierbestryding, veediefstal en goeie bestuur van die veeartsenydiens.
Buiten die fisieke deel van wolskaapboerdery, moet die bedryf ook gereken word as ’n meningvormer en dus nie geïgnoreer word nie, meen Prinsloo.
3 Mei 2012