’n Nuwe myn word in ’n vloedvlakte en verklaarde bewaringsgebied naby Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo beoog.
Die mynmaatskappye Sylvania Resources Limited en Pan Palladium South Africa is in die proses om aansoek te doen om ’n mynreg op die plase Volspruit, 326, KR, en Zoetveld, 294 KR.
Myne in RAMZAR-gebied
Die beoogde Volspruit-mynprojek lê in die Nylsvley, wat oor 70 km strek, en ’n verklaarde RAMZAR-bewaringsgebied is. Die projek beoog twee oopgroefmyne stroomaf van die vleigebied, 20 km suid van Mokopane, en kan moontlik water uit die stelsel dreineer.
Verskeie belangegroepe, onder wie boere, grondeienaars en omgewingsbewustes, is uiters besorg oor die ekonomiese, sosiale en ekologiese impak van die beoogde mynbedrywighede.
Die Nylrivier strek vanaf die Modimolle-omgewing, via die Mogalakwena tot in die Limpoporivier, wat die grens met Botswana vorm. Verskeie gemeenskappe en bedrywe, soos landbou en toerisme, is afhanklik van water waarvan die Nyl die voedingsbron is.
Verreikende impak
Die omvang van en impak op die totale gebied wat geraak sal word, moet behoorlik vasgestel word, meen me. Carina Steenkamp van die Nyl-aksiegroep. Mnr. C.F. Beyers Smit, die DA se uitvoerende raadslid vir Mogalakwena, is bekommerd oor die verreikende impak van die projek.
Besoedeling kan sover as die Limpopo strek en plaaslike gemeenskappe, die landbou en munisipaliteite wat die rivier as waterbron gebruik, benadeel.
Volgens mnr. Rob Tooley van Limpopo se parke-en-toerismeraad is werkskepping vir hulle baie belangrik, maar met die beperkte leeftyd van die beoogde myn en die verwagte ongunstige impak op die omgewing en sy mense, meen hy dat toerisme in die vleiland meer werk op lang termyn kan skep.
“Die Nylsvley is een van ons belangrikste parke en word internasionaal as ’n besonderse vleiland-bewaringsgebied erken. Daarom is dit ’n voorrangsaak om die gebied te beskerm en vir die nageslag te bewaar,” sê hy.
21 Oktober 2011