Die kwessie oor toelating vir voornemende studente in die veeartsenykunde by Onderstepoort is na mnr. Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, verwys, sê AfriForum Jeug.
Luidens ‘n verklaring is dié burgerregtegroep deur verskeie studente gekontak nadat ‘n student se afkeuring aan die media bekend is.
Me. Kaira Haylock het nie keuring gekry om aan die Fakulteit van Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria te studeer nie, glo op grond van akademiese prestasie. Dít ten spyte van haar goeie akademiese resultate.
Nóg sewe matriekstudente
Die organisasie sê nóg sewe matriekstudente hulle gekontak. Dié groep, met altesaam 50 onderskeidings tussen hulle, is weens dieselfde rede nie gekeur nie. Nzimande is gevra om dringend in te gryp oor skynbare ongeregtighede by die universiteit.
Die minister word versoek om die tekort aan veeartse in die land te verlig deur toppresteerders die geleentheid te gun om nie op grond van ras met mekaar mee te ding nie.
Volgens mnr. Charl Oberholzer, voorsitter, blameer die universiteit demografiese teikens, terwyl die minister die bal na die universiteit teruggooi. Intussen geniet die vaardigheidstekort in dié beroep nie die nodige aandag nie.
“AfriForum Jeug ontvang geweldig baie klagtes oor die onregverdigheid wat by die UP geskied omdat al die applikante nie aan dieselfde resies deelneem nie. Topstudente verlaat die land omdat hulle nie die geleentheid gegun word om hulle roeping hier uit te leef nie. Studente wat eers in 1993 gebore is, word gevra om eenkant toe te staan, ongeag die bydrae wat hulle tot die land se vaardigheidskrisis wil maak,” aldus Oberholzer.
9 November 2011