
Die landboumaatskappy Obaro het pas ’n 50%-belang gekoop in Koedoeskop Kunsmis, wat hoofsaaklik in vloeibare kunsmis en pasgemaakte mengsels spesialiseer.
Daarmee saam het Koedoeskop Kunsmis die Afrifert-kunsmisvermengingsaanleg op Groblersdal oorgeneem saam met die toekomstige bemarkingsregte van Afrifert se produkte. Mnr. Nic Bronkhorst, besturende direkteur van die Obaro-groep, sê die vennootskap met die eienaars van Koedoeskop Kunsmis en die verkryging van die vermengingsaanleg gee die groep toegang tot die hele kunsmiswaardeketting tot voordeel van sy boereklante.
“Ons stap om hierdie besighede te laat saamsmelt word aangedryf deur die behoefte van boere om ’n kundige vennoot binne die waardeketting te hê wat aan al hul bemestingvereistes kan voldoen. Dit geld van grondstof en standaardkunsmismengsels af tot baie gespesialiseerde toepassings met bymiddels vir spesifieke plantvereistes. Dit stel produsente in staat om hul gewasse doeltreffender te verbou omdat verskillende plante spesifieke kombinasies van voedingstowwe in die ontwikkelingsproses benodig.”
Hy sê die samesmelting is deel van Obaro se strategie om elke boer se sakevennoot op sy plaas te wees. Hulle beoog om personeel met spesialiskennis toe te rus sodat hulle, tesame met die unieke produkte, ’n spesiale diens binne ’n uitgebreide geografiese gebied kan lewer.
“Dit verseker dat Obaro getrou bly aan sy missie: om in pas te wees met die boer. Ons droom is om elke enkele bemestingbehoefte wat ’n boer op sy plaas kan hê, te help vervul.”
Die Koedoeskop-aanleg is in 2004 begin en vorm deel van die Krokodil-Wes-besproeiingskema in Limpopo. Mnr. Leon Fourie, besturende direkteur van die nuwe onderneming, sê die aanleg het in 2020 ’n volskaalse vernuwing ondergaan en gebruik die beste beskikbare tegnologie om produkte van topgehalte te verseker. “Boere hoef nie veel verder te soek om ’n vennoot te vind wat kan voldoen aan elke bemestingsvereiste wat hulle kan hê nie.”