Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) kan vroeg in die nuwe jaar sonder ’n raad sit.
Boonop is daar steeds ’n wolk van onsekerheid oor die toekoms van dié instansie se uitvoerende hoof.
Adv. Dave Mitchell, waarnemende uitvoerende voorsitter van die OBP-raad, sê hy is tans die enigste geldige raadslid. Grondwetlik word vyf raadslede vereis.
“Ons was drie, maar die ander twee se kontrakte het op 10 Oktober verval.” Mitchell se kontrak verval einde Februarie. Hy is bekommerd dat daar gesloer word met die besluit oor ’n nuwe raad sodat die huidige raad se klagtes teen dr. Andile Dyasi, uitvoerende hoof van OBP, kan verdwyn.
Die raad het sedert Junie vanjaar aan me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, aanbeveel dat Dyasi weens beweerde ongerymdhede afgedank word. Joemat-Pettersson het in September gesê dat sy nie kommentaar op die aangeleentheid kan lewer nie omdat Dyasi haar en die OBP daaroor dagvaar.
“Ek het gereeld met die raad gepraat en aan hulle geskryf om vir my bewyse te lewer van enige onregmatige optrede deur Dyasi, maar dit het tot niks gelei nie. Al wat ek vra, is vir bewyse sodat ek die stappe kan doen wat nodig is.”
Lees ook:
3 November 2010